NewsSchools

Magadzi spreek ouers se vrese aan

Die LUR vir onderwys, Dikeledi Magadzi, het verlede Woensdag met die ouers van Afrikaanssprekende leerders van die Westenburg Sekondêre Skool vergader om te hoor wat die probleme by die skool is en om hul voorstelle oor hoe dié probleme opgelos kan word aan te hoor.

POLOKWANE – Die LUR vir onderwys, Dikeledi Magadzi, het verlede Woensdag met die ouers van Afrikaanssprekende leerders van die Westenburg Sekondêre Skool vergader om te hoor wat die probleme by die skool is en om hul voorstelle oor hoe dié probleme opgelos kan word aan te hoor.

Die vergadering het omstreeks 18:00 by die skool plaasgevind.

Dit was die tweede keer dié week wat die LUR die skool besoek.

Die besoeke volg nadat ouers ‘n petisie aan die departement oorhandig het waarin hulle vir die behoud van Afrikaans as voertaal in die skool gepleit het en ander pro-bleme by die skool aan die lig gebring het.

Magadzi was verlede Maandag by die skool waar sy met die skool se beheerliggaam en onderwysers vergader het.

Volgens Eugene Lyle, voorsitter van die beheerliggaam, het die LUR die hele dag by die skool spandeer en met die beheerliggaam, onderwysers en skool se bestuurspan vergader.

“Al die kwessies vervat in die griefskrif, wat verlede Maandagoggend aan die department oorhandig is, is aangespreek. Die hoof was nie teenwoordig nie, blykbaar is hy met siekverlof,” het Lyle verduidelik.

Lyle het gesê die ouers is bang dat Afrikaans heeltemal uit die skool, wat tans ‘n dubbelmediumskool is, sal verdwyn.

Hy het verduidelik dat slegs vier Afrikaanse leerders verlede jaar bevorder is na gr. 11 en hy skryf hierdie probleem aan die taalprobleem toe.

Die ouers vra in hulle petisie vir meer Afrikaanse onderwysers of dan ten minste onderwysers wat tweetalig is.

Die departement van onderwys se woordvoerder, Phuti Seloba, het gesê die departement het reeds een onderwyser aangestel en was in die proses om ‘n tweede onderwyser aan te stel.

“Die departement is vasbeslote om te verseker dat daar gehalte van onderrig by die skool is,” het Seloba gesê.

Die LUR het aan die ouers gesê dat sy hulle frustrasies verstaan en die saak sal ondersoek. Sy het gesê daar moet so vinnig moontlik deur die beheerliggaam aan die ouers terugvoering gegee word. Sy het die ouers verseker dat die departement besig was om onderwysers aan te stel om die tekort by die skool aan te vul.

“Die departement belowe om die saak te ondersoek en iets te doen aan die probleme by die skool, maar niks kom van die beloftes nie. Ek hoop dié keer is dit nie net leë beloftes nie, en dat die departement iets gaan doen om die probleme aan te spreek,” het ‘n ouer in die vergadering gesê.

Volgens Lyle het die departement reeds begin om verandering by die skool aan te bring en hy was positief dat daar lig aan die einde van die tonnel is vir die Afrikaanse leerders van die Westenburg Sekondêre Skool.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button