NewsSchools

Liefiedag gevul met borrels en koekies

Akademie Reformia leerders het Vrydag sommer baie liefde en 'n stukkie vreugde in die harte van ouer persone en inwoners van die Polokwane Nasorgsentrum in Dorpstraat gebring

POLOKWANE – Akademie Reformia leerders het Vrydag sommer baie liefde en ‘n stukkie vreugde in die harte van ouer persone en inwoners van die Polokwane Nasorgsentrum in Dorpstraat gebring.

Die gr. 2-leerders en hul onderwyser, Estie Henwood, asook van die leerders se ouers het eetgoed en geskenke vir inwoners van die Polokwane Nasorgsentrum gebring en saam partytjie gehou op Liefiedag, soos hulle Valentynsdag herdoop het.

Almal was in wit en rooi aangetrek en die tuin was vrolik versier met rooi hartjies. Tafels het gekreun onder lekker eetgoed en koekies.

Daar woon tans 15 inwoners by die nasorgsentrum en 14 dagbesoekers word ook daar versorg. Aan die hoof staan Saartjie du Toit, ‘n energieke en liefdevolle bondel vreugde.

Net voor die aankoms van die gr. 2’s het sy hardop gewonder hoekom sy tog koekvurkies uitgehaal het, aangesien daar net harde kleinkoekies was. Kort daarna het ‘n bakkie voor die hek stilgehou en ‘n paar groot koeke is afgelewer.

Saartjie het haar antwoord gekry en haar oë het geblink. “God is goed,” het sy gesê.

Intussen het kinders van Akademie Reformia se kleuterklas by Jo-Anne Ouetehuis in Andrewstraat gaan inloer en ook Liefiedag-vreugde vir die bejaardes gebring.

Terug by die skool, was dit skattejagtyd vir die 44 voorskoolse kinders en groot vreugde en verwondering het geheers oor die borrels wat die lug in geblaas is nadat die skatte gevind is.

Sommige kleintjies het bietjie gesukkel met die blasery, maar het dit gou onder die knie gekry toe hulle geleer is om “stááádig” te blaas. Gou was sommige van die “botteltjies vol borreltjies” leeg, maar die teleurstelling is gou vergeet toe die jongspan mooi versierde liefie-koekies gekry het om te eet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button