Local NewsNews

Kattekwaad en poetse

Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) beskryf 'n kwajongstreek as 'n ondeunde daad van 'n kwajong, of 'n kattekwaad.

POLOKWANE – Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) beskryf ‘n kwajongstreek as ‘n ondeunde daad van ‘n kwajong, of ‘n kattekwaad.

Review het met bejaarde inwoners van onder andere die Vergeet-My-Nie-woonstelle gaan gesels om te hoor of hulle kwajongstreke aangevang het en of hulle ooit gevang is.

Joan Geldenhuys voel dat kwajongstreke kattekwaad is, maar dat dit nie van so aard is dat jy gearresteer moet word nie. “Ek en my vriende het gereeld gaan toktokkie speel. Ons is nooit gevang nie, ons het gehol dat ons klein word.” Sy sê vandag se kattekwaad gaan met geweld gepaard. “Hulle kan niks doen sonder ‘n vuurwapen nie.”

Anne Mayers vertel sy was so stout soos enige kind sou wees. “Ek was baie bederf aangesien ek die jongste kind was.” Sy sê die rede vir vandag se kwajongstreke wat gevaarliker is, is omdat kinders nie meer pakslae kry nie. “Kinders word nie meer gedisiplineer nie.”

Frikkie Botha lag lekker terwyl hy vertel hoe hy en sy vriende destyds poetse gebak het. “Ons het een nuwejaar ‘n boer se perdekar gesteel en hom in die dam getrek. Ons was so vyf of ses ouens en die boer het vermoed dis ons, maar kon dit nooit bewys nie,” vertel hy.

Hy dink kwajongstreke is om poetse te bak en kwaaddoen.

“Die kinders van vandag doen dit op ‘n gevaarlike manier, dis wat dit soveel anders as destyds maak.”

Vir Delphine Foster is kwajongstreke om ander mense te terg. Sy vertel dat sy nooit kwajongstreke gepleeg het nie, aangesien haar ma te streng was.

Haar man, John Foster sê om vinnig te ry maak ook deel uit van kwajongstreke. Hy het in sy jong dae kettie geskiet.

“Ek dink die verskillende versoekings maak vandag se kwajongstreke gevaarliker. Oral is dwelms en geweld betrokke.”

Hennie Hattingh onthou hulle het toktokkie gespeel en perskes by die dominee se huis gesteel.

“As ons gevang is is ons kwaai aangespreek,” vertel hy. “Deesdae het mense geen perke nie, hulle gaan oorboord.”

Annetjie Fourie vertel sy was maar altyd ‘n stil mens wat nie baie maats gehad het nie.

“Ek het nie kwajongstreke gedoen nie.”

Tom Makoala sê hy is ge-slaan wanneer hy gevang is met kwajongstreke. “My ouers het geglo in ‘spare the rod and spoil the child’,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button