POLOKWANE – Meer as 50 uistallers het die terrein van die Hoërskool Pietersburg (PHS) versier met hul uitstallings van verskillende loopbaanopsies en studiegeleenthede tydens ‘n onlangse PHS-loopbaandag.
Dié jaarlikse uitstalling is die grootste in Limpopo en sluit ook fasiliteite in vir leerders om inligting te kry en beplanning te doen vir studielenings. Meer as 1 000 leerders van skole in die stad het om die beurt die dag bygewoon. Plaaslike skoonheidsbesighede en selfs vliegskole het ook uitgestal.
PHS se skakelbeampte, Anna-Marie Schoeman het gesê dat die uitstalling elke jaar ‘n groot hoogtepunt vir die skool is omdat dit leerders van PHS asook leerders van ander skole die geleentheid bied om te sien wat vir hulle wag as hulle eers met skool klaar is en op ‘n loopbaan moet besluit.
“Dankie aan al die skole vir hul ondersteuning op die dag. Ons hoop van harte dat dit julle sal help met die groot besluit oor wat die toekoms mag inhou.” het sy gesê.



