Local NewsNews

Tuinbouklub kroon die Impatiens

Die New Guinea Impatiens-plant is Saterdagmiddag as plant van die maand gekroon by die Polokwane Tuinbouklub se maandlikse vergadering.

POLOKWANE – Die New Guinea Impatiens-plant is Saterdagmiddag as plant van die maand gekroon by die Polokwane Tuinbouklub se maandlikse vergadering.

Die plant kom in ‘n wye verskeidenheid kleure voor, maar nie in blou en geel nie. Dit groei een tot twee voet hoog en moet so nege tot 15cm uitmekaar geplant word.

Hanlie Vorster was verantwoordelik vir die wenke van die dag. Sy het ‘n tweeliter koeldrankbottel omtower in ‘n mandjie wat in die tuin gehang kan word.

“Sny die bottel groot oop en maak drie klein gaatjies aan die onderkant. Vul die bottel met grond en sit plantjie in. Bind lint of tou aan die kante vas en hang dit in tuin,” het Vorster verduidelik.

Piet Jacobs, een van die sprekers, het verduidelik dat bome die geraamte van enige tuin is. “Die beste bome om te plant is sitrus- en neutbome. Dié bome het veelvoudige funksies. Sitrusbome gee skadu en vrugte, waar ‘n neutboom skadu in die somer en son in die winter asook vrugte gee,” het Jacobs gesê.

Volgens Jacobs is dit belangrik om die kunsmis onder in die gat te gooi, met ‘n lagie sand bo-op, voordat die boom geplant word. “Wanneer ‘n mens die kunsmis langs die kant ingooi, brand dit die boom se wortels en dan moet daar nuwe wortels gevorm word. Dit is ook belangrik om die gat vol water te gooi voordat die boom in die gat geplant word, sodat al die lug uit die gat is,” verduidelik Jacobs. Hy het gesê dit is belangrik om bome te plant, dit help om lug skoon te hou en suurstof the produseer.

Martin Bergh, het op sy beurt gesê dit is belangrik om ‘n goeie besproeiingstelsel te hê. “Die sproeiers moet op mekaar se koppe spuit om bruin kolle te vermy. Maak seker die pyp is breed genoeg sodat die waterdruk goed is wanneer dit by die plante uitkom.

“Dit is ook baie belangrik om sproeiers gereëld skoon te maak, om te verhoed dat dit verstop met sand of ander vullis,” het hy gesê.

Die klub het ook ‘n loting gehou en die pryse was verskillende klein plantjies, twee versieringskussings en ‘n boom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button