POLOKWANE – Verlede Dinsdag het teaterliefhebbers, ouers, vriende en familie hul verlustig in toneelspel vanuit die boonste rakke by Curro Heuwelkruin se Tong en Taal-konsert.
Die Tong en Taal-konsert word sedert 2008 jaarliks deur dié skool aangebied. Hier kry Afrikaanse gedigte en prosa lewe deur die vertonings van leerders.
Vanjaar het die konsert ‘n nuwe baadjie gekry deurdat die gr. 10 tot 12-dramakunsleerders ook deelgeneem het aan hierdie besondere aand.
Nicole Senekal, drama onderwyser in beheer van die produksie, vertel dat die gr. 8-leerders wat deel was van die produksie hul eie gedigte gekies het en dat die gr. 9-leerders lewe in prosa-stukke geblaas het.
“Die droom van die projek is om ‘n liefde vir die letterkunde en toneelspel te kweek sodat leerders hul eie kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel,” vertel sy.
Werke van onder andere Ansa van der Walt, Jaco Jacobs en David Kramer is opgevoer. Die wel en weë van Rooikappie en Aspoestertjie asook Medusa, die goeie, maar tog slegte, feëprinses is ook uitgebeeld.
Ook is die gehoor vermaak met die arme Biker van Bikerfontein en die Vissies van Valsbaai.
Na die pouse is die gehoor deur ‘n dag by die skool geneem en het ‘n kortverhaal aangehoor oor die tipiese kaptein van die eerste rugbyspan en sy meisie.
Daarna is Jan en Sannie getroud en het die Bergies meer oor hulle lewe te sê gehad.



