POLOKWANE – Behoeftige leerders van Laerskool Pietersburg het verlede Vrydag rede gehad om te juig toe lede van Solidariteit se Helpende Hand-projek by dié skool kruideniersitems uitgedeel het.
‘n Totaal van 35 leerders het elkeen twee 10-liter emmertjies vol voedselitems gekry om huis toe te neem om hul gesinne te help in die skoolvakansie.
Die 29 items in elke emmer sluit mieliemeel, pasta, speserye en lekkernye in.
Solidariteit is deel van die groter Solidariteit Beweging wat sy ontstaan 112 jaar gelede gehad het (in 1912) en uit 18 organisasies bestaan. Drie van die lede-organisasies is die vakbond, die gemeenskapsorganisasie Helpende Hand en die burgerregte organisasie AfriForum. Elke organisasie is verantwoordelik vir sy eie fondse en administrasie.
Helpende Hand is in 1949 gestig as antwoord op die armoedekrisis na die Tweede Wêreldoorlog. Hulle is reeds jare lank betrokke by verskillende skole waar hulle by reeds bestaande kospakkieprojekte inskakel en met die hulp van geskenkkaarte help met die uitgawes vir dié projekte. “Dit is belangrik om betrokke te raak by die welsyn van die kinders van die skool en as sodanig verwelkom ons die hulp van Solidariteit,” het die hoof van die skool, Peet Bredenkamp, gesê.



