POLOKWANE – Curro Heuwel-kruin se leerders het Vrydagaand, as deel van hulle stigtingsdagverrigtinge, deelgeneem aan ‘n lanternseremonie.
Die skool vier sedert 2008 jaarliks hulle stigting en verrigtinge het reeds Vrydagmiddag afgeskop met ‘n vaandelparade.
Heuwelkruin se junior- en seniorkoor het opgetree, gevolg deur tradisies soos die leiersseepkisgeleentheid, die hys van die skool se vlae en ‘n kranslegging deur die drie huise.
Meer as 50 Kruinies het die aand met hul lanterns verhel-der op die skool se sportgronde.
Volgens die organiseerder, Nicole Senekal, het hulle dié instelling verlede jaar met die hoërskoolleerders begin.
“Ons hoop dit sal ‘n jaarlikse gebeurtenis word wat ons saam met ons stigtersdag kan aanpak. Vanjaar neem die laerskool se leerders ook deel,” het Senekal gesê.
Na die lanternseremonie het almal lekker verder saam gekuier tydens die jaarlikse Kloekfees.



