Local NewsNews

6jr na kragboks ontplof kyk slagoffer vorentoe

Ses jaar gelede het twee kinders erge brandwonde opgedoen toe 'n munisipale kragboks op die hoek van Leon- en Ben Harrisstraat in Westenburg ontplof het.

POLOKWANE – Ses jaar gelede het twee kinders erge brandwonde opgedoen toe ‘n munisipale kragboks op die hoek van Leon- en Ben Harrisstraat in Westenburg ontplof het.

Die ontploffing het gevolg nadat ‘n kind op 5 Mei 2008 na bewering met die skakelaar van die kragboks gespeel het.

Lucille Buys, een van die slagoffers se ma, sê na al die jare lewe hulle nog elke dag met die trauma en letsels van daar die dag. “My kind was nooit weer dieselfde na die voorval nie. Hy is baie stil en teruggetrokke. Sy skoolwerk het ook agteruitgegaan; so erg dat ek hom in ‘n spesiale skool moes sit. Hy is ook baie skaam en dra nooit klere wat sy letsels wys nie. Daar is tye wat sy liggaam gloei van die hitte en sy maag kookwarm is, maar die dokter sê met tyd sal hy hierdie newe-effekte ontgroei,” sê Buys.

Haar seun Dylen was 10-jaar-oud toe die voorval gebeur. Hy het van sy kop tot onder sy naeltjie gebrand.

“My kind het in die lug gevlieg soos wat die elektrisiteit deur sy liggaam gestroom het. Hy was kaalvoet daardie dag. Ek is net dankbaar dat my kind nog lewe, want dinge kon soveel anders gewees het. Die elektriese stroom wat deur my kind gevloei het, is ongeveer 11 000 volt, wat vir 800 huise elektrisiteit kan voorsien,” sê Buys.

Dylen was vir meer as ‘n maand in Mankweng Hospitaal se brandeenheid en sy brandwonde was so erg dat hy veloorplantings moes kry.

“Die Here het my ‘n tweede kans gegee en ek gaan goed gebruik maak daarvan. Ek gaan skool klaarmaak en dan wil ek verder studeer om ‘n werktuigkundige te word,” sê Dylen.

Na die voorval het die Polokwane Munisipaliteit ‘n heining om die kragboks gesit, met ‘n hekkie wat altyd gesluit is. Met Review se besoek aan die toneel, was die kragboks welig toegegroei met bome, gras en onkruid. Daar is ook nie ‘n waarskuwingsbordjie wat aandui dat daar ‘n kragboks is nie. Die hek van die heining is ook weg, vermoedelik gesteel.

Die inwoners vrees dat die kragboks ‘n veiligheidsrisiko is, omdat die hekkie nie meer daar is nie. “Ons is bang ‘n kind kry weer seer by die boks, maar dis nie net die munisipaliteit se skuld nie. Die gemeenskap dra ook skuld hier. Die hek is nie deur die munisipaliteit afgehaal nie, maar deur ons eie mense gesteel. So dis ons eie skuld dat dit oopstaan. Maar die feit dat dit so bebos en toegegroei is, dit is die munisipaliteit se nalatigheid. Dis tyd dat ons ophou vingers wys en ander blameer, die gemeenskap moet ook bietjie verantwoordeliheid neem,” sê ‘n inwoner wat anoniem wil bly.

Malesela Maubane, munisipale kommunikasiebeampte sê die munisipaliteit sal tegnici van die munisipale kragafdeling uitstuur om waarskuwingsborde op te sit.

“Om kinders se veiligheid te verseker pleit die munisipaliteit by inwoners om enige vorm van vandalisme dadelik aan te meld, sodat kinders nie blootgestel word aan enige elektriese gevare nie.”

Inwoners kan vandalisme van kragbokse, onveilige kragbokse of enige munisipale elektriese infrastruktuur probleme aan die munisipaliteit rapporteer by (015) 290 2490.

Die ander kind wat saam met Dylen gebrand het, wou nie met Review praat oor sy ondervinding of herstelproses nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button