Man en vriend in messtekery
Die Westenburg polisie is opsoek na 'n man wat na bewering sy vriend met 'n skerp voorwerp in die maag gesteek het Saterdagaand.
POLOKWANE – Die Westenburg polisie is opsoek na ‘n man wat na bewering sy vriend met ‘n skerp voorwerp in die maag gesteek het Saterdagaand.
Die voorval het net voor 20:00 op die hoek van Ben Harris- en Buysstraat plaasgevind.
Volgens die polisie het Norman Adams (35) en ‘n vriend by ‘n plaaslike drankwinkel in Ben Harrisstraat gekuier. Op pad huistoe het die twee klaarblyklik begin stry, waarna die vriend na bewering vir Adams met ‘n skerp voorwerp in die maag gesteek het. Adams se broer, Martin, sê sy broer se wond was so erg dat sy ingewande buite sy liggaam was en hy moes ‘n noodoperasie ondergaan om sy lewe te red. “My broer is in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal. Die dokter sê hy gaan vir ‘n maand in die hospitaal moet bly. Ek is net dankbaar dat my broer lewe, dinge kon soveel anders gewees het,” het hy aan Review gesê.
Volgens Martin het sy broer in ‘n bloedbad op die grond gelê toe die man voor wie se huis die voorval gebeur het, op hom afgekom het.
“Die man wat my broer gekry het, het die polisie laat kom en ons is eers na 12 die aand laat weet van die voorval. My broer het glo vir 40 minute daar gelê en wag vir die ambulans om te kom. Die man wat hom gesteek het, het weggehardloop en hy is nou nog soek,” het Martin verduidelik.
Kapt. Mohlaka Mashiane, Westenburg polisiewoordvoerder, kon nie bevestig of daar reeds ‘n verdagte in verband met die voorval gearresteer is nie, maar het bevestig dat ‘n saak van aanranding ondersoek word deur die polisie.



