Beeldjie kry weer voete
Besoekers aan die Pietersburg Konsentrasiekampkerkhof in Nirvana sê hulle was geskok om te sien dat die beeldjie van die onbekende kinderheld, wat in die ingang van die kerkhof gestaan het, vir die derde keer gesteel is.
POLOKWANE – Besoekers aan die Pietersburg Konsentrasiekampkerkhof in Nirvana sê hulle was geskok om te sien dat die beeldjie van die onbekende kinderheld, wat in die ingang van die kerkhof gestaan het, vir die derde keer gesteel is.
Hierdie beeldjie is verteenwoordigend van die lyding wat in die konsentrasiekamp deurgemaak is en het twee weke gelede verdwyn.
Johan Willemse, Polokwane raadslid, sê hy het die kerkhof besoek ter voorbereiding vir die jaarlikse kranslegging en eerbetoon wat Sondag by hierdie kerkhof plaasgevind het. Hy sê dit was tydens hierdie besoek dat hy besef het dat die beeldjie weereens voete gekry het ten spyte van die omheining wat met slotte en betonversterkings opgerig is, juis om hierdie tipe misdaad te fnuik.
Willemse sê hy het die saak aangemeld by senior munisipale personeellede Henry Lubbe en Maxwell Ledwaba. Hy sê Ledwaba sal ‘n saak van diefstal en beskadiging van ‘n nasionale erfenis by die polisie oopmaak.
Volgens Willemse sal Ledwaba ‘n skriftelike verslag voltooi, waarna die munisipaliteit se kultuurdienste hul versekeringsmaatskappy moet kontak om die beeldjie te vervang.
Die beeldjie van die dogtertjie is deur bekende beeldhouer Jo Roos geskep en op 16 Desember 1993 is dié beeldjie deur Willie en Cecilia Snyman onthul. Die beeldjie het eers op die gedenkmuur van die begraafplaas gestaan, maar is gesteel en later by skroothandelaars gevind.
In 2002 is die beeldjie na ‘n meer prominente plek geskuif, waar sy voor die begraafplaas staan en oor die grafte uitkyk.
Weereens is die beeldjie gesteel en by ‘n skroothandelaar gevind. Daarna is dit in veilige bewaring in die Irish House Museum gehou tot in 2005, toe die beeldjie weer by die kerkhof staangemaak is.
Willemse sê die kerkhof word baie mooi onderhou deur die Polokwane Munisipaliteit, maar dat die hek altyd oopstaan en daarom kon die beeldjie so maklik verwyder word.
“Die vernietiging van dele van ons nasionale erfenis raak ‘n snelgroeiende probleem wat die waarneming en optrede van elke landsburger noodsaak. Enige monument, gedenkteken of kultuurhistoriese struktuur wat verwaarloos, kwaadwillig beskadig, of afgebreek word, moet aan die instansies wat betrokke is by erfenisbewaring aangemeld word.”
Munisipale woordvoerder, Matshidiso Mothapo, sê die munisipaliteit is besig met ‘n ondersoek na die diefsal van die beeldjie en daar sal ‘n verslag opgestel word nadat die ondersoek afgehandel is.
“Vandalisme, veral deur kinders, is gewoonlik die rede dat ‘n begraafplaas soos hierdie geteiken word en dit is vir die munisipaliteit ‘n groot probleem in afgeleë plekke soos hierdie waar gereelde skending van munisipale eiendom plaasvind. Inwoners wat weet van vandalisme van munisipale eiendom moet asseblief die Polokwane Munisipaliteit kontak by (015) 290 2000 en hierdie voorvalle raporteer,” sê Mothapo.
Enige inligting oor hierdie gesteelde beeldjie askook inligting oor die skending, verwaarlosing of diefstel van erfenisse of kultuurgeskiedenis kan by Wilemse aangemeld word by (015) 297 5922 of 072 197 3134, oof stuur ‘n e-pos aan erfenisse@mweb.co.za.



