Local NewsNews

Liefde vir lees ‘n groot geskenk

Debbie Kampherbeek maak geen geheim daarvan dat haar werk haar passie is en dat sy lief is vir elke kind nie.

POLOKWANE – Debbie Kampherbeek maak geen geheim daarvan dat haar werk haar passie is en dat sy lief is vir elke kind nie.

“Hoe dan nou anders as elke dag niks minder as ‘n ryklike seën is nie,” sê sy.

Debbie sê haar missie was nog altyd om ‘n verskil in ander se lewens te maak en deur Stimulus Maksima kry sy elke dag die geleentheid om juis dit te doen.

Stimulus Maksima is ‘n rekenaargebasseerde onderrigkonsep wat daarop fokus om leerders emosioneel gebalanseerde intellektuele stimulasie en tegnologies toerusting te bied.

Debbie sê vandag se kinders lees eintlik baie, want hulle word baie blootgestel aan sosiale media. Ongelukkig is dit wat kinders lees baie belangrik vir hul ontwikkeling. Sy sê sy sien al meer kinders wat gebruik maak van verkorte woorde en SMS-taal.

“Dié kinders weet nie meer hoe om alledaagse woorde korrek te spel nie. So gaan daar ‘n geweldige taalrykheid verlore,” sê Debbie.

Sy mag dalk in Pretoria haar eerste lewenslig aanskou het, maar Debbie sê daar vloei niks anders as suiwer Polo-kwane-bloed deur haar are nie. Sy, beide haar ouers, asook haar man Jan, het hier skoolgegaan en hul lewens gebou. Daarom is dit vir haar so ‘n groot voorreg om ‘n verskil te maak in die plek waar sy self soveel geleenthede gekry het.

Debbie sê sy het reeds in haar tyd as onderwyser by Hoërskool Pietersburg begin om ondersoek in te stel na programme wat leerders kon help lees. “Goeie lesers is goeie leiers en ‘n kind wat kan lees, is ‘n kind wat kan leer,” sê sy. Dit was ook met hierdie gedagte wat sy met die Stimulus Maksima-program in Polokwane begin het, sowat vyf jaar gelede.

Sy glo dit is nooit te laat om te help wanneer iemand ‘n agterstand het nie, maar hoe vroeër ‘n kind gehelp kan word om beter te lees, hoe groter sal die suksesse wees wat die kind behaal.

Een van haar suksesverhale is die van ‘n gr. 12-leerder wat baie gesukkel het op skool en selfs gevrees het dat hy sy laaste jaar op skool sou druip. Met behulp van Stimulus Maksima kon sy hom help en hy het uitstekende matriekuitslae behaal.

Debbie sê enige kind wil graag leer en sy prikkel hul belangstelling deur van rekenaars gebruik te maak. So maak sy ‘n deur oop vir die kind om te lees. “Rekenaars is soos magnete vir kinders en daardeur is die stryd halfpad gewen.”

Haar raad aan ouers is om hul kinders lief te maak vir boeke en om lees van kleintyd af deel te maak van hul lewens. “Kinders sal boeke lees oor dinge waarin hulle belangstel. Dis waar ouers ‘n bydrae kan maak.

“Koop vir jou kind boeke oor sy gunsteling onderwerp en lees saam met hom. Vra die kind vrae wat hom sal forseer om oor die inhoud van die boek te dink,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button