Man sê sy gebreekte been is muni se skuld
'n Man van Westenburg sê hy het genoeg gehad van die munisipaliteit wat gate grawe in die woonbuurt en dit nie toemaak nadat hulle klaar gewerk het nie.
POLOKWANE – ‘n Man van Westenburg sê hy het genoeg gehad van die munisipaliteit wat gate grawe in die woonbuurt en dit nie toemaak nadat hulle klaar gewerk het nie.
Sy frustrasie volg nadat Abraham Bernadus (39) na bewering in ‘n gat geval en sy been gebreek het op 17 April.
“Die munisipaliteit het meer as twee maande gelede ‘n waterpyp op die hoek van John Smith- en Winterstraat reggemaak en nooit die gat daarna toegemaak nie. Die munisipaliteit het ook nie enige afskortings om die gat gesit om voetgangers te waarsku nie.
“Ek het die aand van die voorval om 20:00 van die werk af gekom. Dit was donker op die hoek en ek het nie die gat gesien nie. Toe val ek daarin en breek my been,” verduidelik hy.
Bernadus werk vir ‘n plaaslike drankwinkel en restaurant waar hy afleweringswerk doen.
“Ek kan nie werk met my gebreekte been nie en nou sit ek by die huis sonder ‘n inkomste. My vrou se Sassa-pensioen van R1 300 is al inkomste wat ons het totdat my been herstel het en ek weer kan werk. Dit is moeilik vir ons, want ons huur ‘n kamer en die huur is R1 000. Dan het ons nog nie eens ander skuld betaal of kos gekoop nie.
“Ek voel die munisipaliteit was nalatig en hulle moet betaal vir hul fout. Dit is ‘n ou gewoonte van die munisipaliteit om nie skoon te maak na hulle gewerk het nie. Daar is baie ander plekke in Westenburg waar hulle werk aan waterpype en nie die gate toemaak nie. Kyk hoe lyk ons se strate van die slaggate,” sê Bernadus.
Hy verduidelik dat die munisipaliteit in Ben Harrisstraat ook ‘n waterpyp reggemaak het en in die proses die pad opgekap het om aan die pyp te werk.
Hy sê nadat hulle klaar gewerk het, het hulle na bewering die pad net so gelos.
“Hulle het eers drie maande later die pad kom regmaak nadat inwo-ners gekla het en hulle met die koe-rant gedreig het,” sê Bernadus.
Review het met ander inwoners oor hierdie probleem gepraat en hulle het Bernadus se bewerings gestaaf.
Teen druktyd kon die munisipa-liteit nog nie kommentaar lewer oor die saak nie.



