POLOKWANE – Linda Jansen, ‘n wiskunde-onderwyser van Hoërskool Pietersburg (PHS) is onlangs gekies om die Global Smart opvoedersberaad in Calgary in Alberta, Kanada, by te woon.
Dié beraad sal van 19 tot 26 Julie plaasvind en opvoeders wat reeds met Smart Board-tegnologie in ‘n praktiese omgewing gewerk het, sal die geleentheid kry om die voor- en nadele van dié produkte te bespreek.
Die beraad sluit in:
• Gevorderde opleiding en werkswinkels vir die Smart Amp en Smart Notaboek;
• Die geleentheid om te netwerk met ander leiers in onderrig, en
• die geleentheid om insette en terugvoer te gee op die nuwe Smart-produkte en inisiatiewe.
Linda sê dat sy drie jaar gelede aan die Smart-produkte bekendgestel is en dat sy só passievol daaroor geraak het, dat sy PHS genader en oortuig het om ses Smart-borde by die skool in gebruik te neem.
“Toe ek sien wat met die daardie borde vermag word, het ek besef ons kan nie meer daarsonder skoolhou nie,” vertel sy.
PHS gebruik tans 26 Smart-borde. Linda meen die grootste verskil wat die borde meebring is dat leerders wat stadig skryf geen inligting verloor nie, want daar is nie ‘n swartbord wat skoongevee moet word om plek te maak vir nuwe inligting nie. Leerders kan ook na die les interaktief met die Smart-bord werk hersien, om seker te maak hulle verstaan.
“Smart-produkte het so ‘n groot verskil in my lewe gemaak, dat ek dit met al my kollegas wil deel. Die volgende stap is om WiFi in die skool geïnstalleer te kry, sodat die borde tot hulle volle kapasiteit gebruik kan word,” vertel Linda.



