Wiele500 se teeparty betaal vir rolstoele
Die Wiele500-damestee is Saterdag by die Grincourt Natuurreservaat buite Polokwane aangebied deur Exclusive Properties en Freshwell.
POLOKWANE – Die Wiele500-damestee is Saterdag by die Grincourt Natuurreservaat buite Polokwane aangebied deur Exclusive Properties en Freshwell.
Wiele500 is ‘n trust wat gestig is om mense met ‘n behoefte aan rolstoele te help. Dit het begin na aanleiding van ‘n meisie van Musina wat in ‘n busongeluk was terwyl sy en haar hokkiespan na ‘n hokkietoernooi in Groblersdal op pad was. Sy het ernstig seergekry en is ‘n kwadrupleeg.
Tydens die byeenkoms was Adam Barnard, oud-lid van die sanggroep Romanz, die seremoniemeester en het Matthys Roets, ambassadeur vir Wiele500, die gehoor vermaak met sy sang en staaltjies van sy lewe in ‘n rolstoel.
Bennie Erasmus en Yolandé Oosthuizen, wat beide na motor ongelukke in rolstoele beland het, was ook van die sprekers by dié geleentheid. Bennie het aan die gehoor vertel hoe hy deur die trauma gewerk het. Tans speel hy nie net rolstoelrugby nie, maar is hy ook ‘n boukontrakteur.
“Ek was 18-jaar-oud toe ek saam met vriende in ‘n motor gery het. My vriend wat bestuur het, het van die pad afgery. Ek het nie ‘n veiligheidsgordel aangehad nie en is uit die motor geslinger.
“Ek en ‘n ander vriend het beide ons nekke gebreek en ons het 12 ure gewag voordat hulp opgedaag het,” het Bennie vertel.
Verder het hy vertel dat hy na vier maande se rehabilitasie ‘n keuse gemaak het om nie ‘n las op sy ouers se skouers te wees nie. Hy het werk gekry 20km van die huis af en geleer om weer onafhanklik te lewe.
Matthys het vertel hy was ongeveer 22 jaar oud toe hy begin sing het. Hy het eers mikro-biologie studeer maar geniet die singery meer. “My vertonings van nou verskil nie veel van my vertonings van voordat ek in die ongeluk was nie. Ek praat wel nou baie meer en dans ook meer,” het hy geskerts.



