Pastoorpaar begin spesiale kerk
Pastoorpaar Pieter en Madelaine van Wyk het verlede Sondag 'n weeklikse motorfietsryerskerk by Bolivia Lodge begin.
POLOKWANE – Pastoorpaar Pieter en Madelaine van Wyk het verlede Sondag ‘n weeklikse motorfietsryerskerk by Bolivia Lodge begin.
Dié paartjie staan reeds 30 jaar lank voltyds in die geestelike bediening.
“Ons was altyd rondreisende pastore wat elke week by ‘n ander kerk gepreek het. Ons het ons kinders tuisonderrig gegee, sodat ons altyd beskikbaar was om ander te bedien,” het Madelaine aan Review vertel.
Die Van Wyks het drie kinders en vier vanjaar hul 35ste huweliksherdenking.
Pieter het vertel hoe hy en sy vrou ontmoet het toe hulle nog op skool was. “Ek is ‘n laatlam, my suster is 20 jaar ouer as ek. Haar dogtertjie was so oud soos Madelaine en wanneer ek tydens skoolvakansies by my suster gaan kuier het, het ons altyd saamgespeel. As ek kon, sou ek tóé al met haar getrou het, maar my pa het nee gesê,” het hy gelag.
Beide Pieter en Madelaine het aan Unisa studeer en daarna hul teologiese opleiding aan die Therapy Theological Centre voltooi. Vroeër jare het die paar gereeld by die PPK-Pietersburggemeente asook die Volle Evangelie Kerk in Polokwane gepreek.
In 1993 het Pieter al die pad van Kaapstad na Polokwane gestap met ‘n kruis van 25kg op sy rug. Die kruis was drie meter hoog. “Die kruis het wieletjies gehad en so het ek deur 33 dorpe gestap om die woord te verkondig,” het hy vertel. Hy het ook hierdie staptog in 1994 aangepak, hierdie keer na Namibië en Angola.
Die Van Wyks het deur die jare ook betrokke geraak by televisie-evangelisasie en bied tans elke Dinsdag om 19:00 ‘n Skype-kerk aan vir mense regoor die wêreld.
Die motorfietryerskerk vind elke Sondagoggend om 09:00 by Bolivia Lodge plaas en Pieter en Madelaine nooi alle motorfiets-entoesiaste van die stad uit om hierdie dienste by te woon.



