Plaaslike skoonheid ‘n Miss Teen-finalis
Lize Ernst (16) sê sy het nooit eintlik aspirasies gehad om 'n skoonheidskoningin te wees nie maar, danksy die tydige ingryping van haar tannie, is sy nou 'n finalis in die Miss Teen Commonwealth SA-skoonheidskompetisie.
POLOKWANE – Lize Ernst (16) sê sy het nooit eintlik aspirasies gehad om ‘n skoonheidskoningin te wees nie maar, danksy die tydige ingryping van haar tannie, is sy nou ‘n finalis in die Miss Teen Commonwealth SA-skoonheidskompetisie.
Lize se tannie het haar vir hierdie kompetisie ingeskryf en sy is nou een van 24 finaliste.
Die blonde leerder van Curro Heuwelkruin vertel dat sy nie tans modelwerk doen nie, maar dat sy wel modelwerk gedoen het in haar jonger jare.
Om haar modellyfie in top-kondisie te hou is vir Lize kinderspeletjies, want sy is gek oor sport en speel graag netbal en hokkie. “Ek het ook onlangs met CrossFit begin en geniet dit baie,” sê sy.
Dié vurige Bloubulondersteuner sê haar droom is om eendag ‘n tandarts te wees, “maar toe ek jonger was wou ek ‘n onderwyser of prokureur word”.
Sy steek ook ‘n paar talente weg vir die res van die wêreld. Lize sê min mense weet sy kan mooi teken en goed dans. “Ek is baie trots daarop dat ek in gr. 3 aan die Suid-Afrikaanse ritmiese gimnastiekkampioenskappe deelgeneem het,” sê sy.
Lize sê ook sy sal nooit kan oorleef sonder haar selfoon, familie, lekker kos, haar geloof in God en haar vriende nie.
Die Miss Teen Commonwealth SA se finale ronde sal tydens ‘n glansseremonie by die Lyric Teater in Gold Reef City op 29 Augustus beslis word. Lize moet nou werk om kompetisieborge te kry.
Lesers kan haar help om goed te vaar in hierdie kompetisie deur vir haar te stem. SMS die woorde, Lise Ernst na 42899 om vir haar te stem. SMS’e kos R3 elk en die sluitingsdatum vir stemme is 28 Augustus.



