Tuinbouers leer oor Takbokvarings
Lede van die Pietersburg Tuinbouklub het verlede Dinsdag die fynere kunsies van 'n perfekte wintertuin baasgeraak.
POLOKWANE – Lede van die Pietersburg Tuinbouklub het verlede Dinsdag die fynere kunsies van ‘n perfekte wintertuin baasgeraak.
Die klub se maandvergadering het by René Bonthuys se huis plaasgevind en die gasspreker was Whelmi Chalmers, ‘n tuin-boukundige wat reeds vele korporatiewe tuine uitgelê het.
Behalwe vir die raad wat sy aan lede van die tuinbouklub gegee het, het sy ook ‘n nuwe plant, die Takbokvaring, aan hulle bekendgestel.
“My raad vir wintertuine is dat mense nie die gras te kort moet sny nie. Laat dit langer word en, as jy dit dán sny, haal die bak van die grasmasjien af sodat die afgesnyde gras bo-op bly lê. Dit vorm ‘n kombers en beskerm die gras teen die koue.”
Verder raai sy die lede aan om hul bome reeds vóór die winter te snoei en die dooie takke en blare op die komposhoop te gooi. “Dit is ook ‘n goeie idee om die grond nou om te spit sodat dit gereed kan wees vir die lente en maak jou broodbome ook voor die winter skoon.”
Volgens Whelmi bestaan die Takbokvaring uit 18 spesies wêreldwyd waarvan drie in Afrika voorkom. “Dié plant wil nie koue hê nie, maar ook nie direkte son nie. Hy wil ook nie droog droog wees nie en het nie grond nodig om te groei nie.”
Whelmi vertel dat die plant gewoonlik teen ‘n boom groei, maar nie parasities is nie. “Hy leef op sy eie. ‘n Uitgegroeide Takbokvaring kan tot een meter hoog raak.
“‘n Takbokvaring vra min werk. Jy hoef hom nie elke dag water te gee nie en as hy in ‘n hangmandjie is, kan jy hom so elke drie of vier maande ‘n piesang gee. Jy maak die piesang skil en al pap en druk dit agter sy kroon in,” het sy verduidelik.
Verder vertel sy dat plante verskillende kos moet kry en nie elke keer dieselfde nie. “Wissel die kos wat jy vir die Takbokvaring gee af; een keer varingvoedingstof wat jy by die kwekery koop en een keer piesang.”
Die volgende tuinbouklubvergadering vind plaas by Sterkloop op Dinsdag 17 Junie.



