Local NewsNews

Westenburgers bou groentetuin

'n Oop stuk grond in Buysstraat in Westenburg, wat eers 'n onwettig stortingsterrein was, is nou 'n groentetuin vir ses vroue van die woonbuurt.

POLOKWANE – ‘n Oop stuk grond in Buysstraat in Westenburg, wat eers ‘n onwettig stortingsterrein was, is nou ‘n groentetuin vir ses vroue van die woonbuurt.

In 2010 het Polokwane se burgemeester, Freddy Greaver, die stuk grond vir 10 inwoners – agt vroue en twee mans – gegee wat hulle onder mekaar verdeel het om groente te plant. Van die 10 is daar net ses vroue oor wat nog tuinmaak.

Roselien Adams (55) is een van die inwoners wat ‘n stukkie grond besit. “Hier is nie water nie en dis hoekom die ander seker besluit het om nie verder te plant nie. Die van ons wat nog oor is loop af tot by die Sandrivier, nie ver van ons tuine af nie, en skep water om die tuin nat te gooi. Op die oomblik is ons tuine se opbrengs maar min, van die hand na die mond, maar dit is die moeite werd, want dit sit kos op die tafel. Met elke plant is daar ‘n waardevolle oes. Wanneer die oes groot is, deel ons dit met die mense wat dit nodig het,” sê sy.

Lidia Marshall (58), nog ‘n inwoner wat ‘n stukkie grond besit, sê hulle plant volgens seisoen. “Dit wat in seisoen is, dit plant ons. Ons het nou uie, wortels, pampoen, ertjies, groenboontjies, groenpeper, beet, spinasie en patats geplant. Elkeen het haar groente wat sy plant en wanneer die oes reg is, deel ons onder mekaar sodat almal bietjie van iets kry,” verduidelik Marshall.

Die vroue kla dat inwoners steeds rommel stort waar hul tuine is.

“Ons pleit by Westenburg se mense om asseblief nie hul vullis hier te gooi nie. Die munisipaliteit het ‘n stortingsterrein in ons woonbuurt, nie ver van ons tuine nie, waar julle tog die goed kan gooi. Of wag tot Donderdag wanneer die munisipaliteit die vullis kom haal, groot asseblief,” vra Marshall.

Marshall en Adams werk elke dag in hul tuin vir minstens vyf ure. “Dit is belangrik om skoon te maak en om elke dag nat te lei,” sê Adams.

Die vroue vra indien daar enigiemand is wat sade aan hulle wil skenk om Marshall te kontak by 084 386 0487.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button