NewsSchools

‘Drukkie-juffrou’ groet

"As ek so met my kindertjies na die klas toe aangestap kom, dan weet ek - hier stap ek nou na die sewende hemel toe."

POLOKWANE – “As ek so met my kindertjies na die klas toe aangestap kom, dan weet ek – hier stap ek nou na die sewende hemel toe.”

Geliefde juffrou en welbekende inwoner Annatjie Greyling het die laaste 27 jaar byna 700 kleuters gereed gemaak vir die “groot skool”.

Dié altyd-reg-met-‘n-drukkie-juffrou en haar man verhuis eersdaags na Potchefstroom, om nader aan familie en kinders te wees.

Hier in haar Krokodilklas (gr. R) by Oosskool, gesels ons onderwyssake, kinders se sake, hartsake.

Annatjie Greyling se spore gaan ver terug. Sy was die stigter van Stimulus Maksima. “Ek sal nooit kan aftree nie, skoolhou is net te lekker. Ek kom met ‘n lied in my hart skool toe en wil met hierdie gr. R-kindertjies werk. Gr. R is absoluut die belangrikste skooljaar van ‘n kind se lewe!” borrel haar passie in woorde oor.

Annatjie het reeds ‘n pos as gr. R-juffrou vir die derde kwartaal aanvaar. Sy vertel van die nuwe seisoen wat vir haar aanbreek en hoe baie sy haar “bid-vriendinne en hartsvriendinne” gaan mis.

Een so ‘n mens is haar vriendin van 27 jaar, Ria Elliot. “Annatjie het die vermoë om kinders in hulself te laat glo,” vertel sy. “Sy is die juffrou wat jou sal troos en moed inpraat wanneer jy jou gunsteling skoene op die speelgrond verloor (en jy dit ook weer kry na sy al jou trane afgevee het). “Ek kan onthou hoe daar kinders met sulke hang skouertjies vir leeslesse en wiskundelesse by haar by Stimilus Maksima aankom. En dan práát sy met hulle. As hulle daar uitstap dan kom hulle met regop skouers en ‘n breë bors uit haar kantoor uit asof hulle champions is,” onthou Ria

“Annatjie is ‘n go-getter. As sy sê sy gaan iets doen, dan doen sy dit.” Ria vertel van haar vriendin se getroue naaldwerkhand.

“Toe haar kinders universiteit toe moes gaan, het sy met ‘n industriële naaldwerkmasjien oor naweke honderde skoolsweetpakke gemaak en sportklere geborduur. Sy is baie kreatief en het al ‘n massa sakke gehekel en by Aardklop gaan verkoop.” Sy is is nie iemand wat ledig sit nie, voeg Ria by, “ek gaan haar so mis”.

Annatjie se raad vir jong onderwysers is eenvoudig dit: “Liefde”.

“‘n Kind kyk tot binne in jou hart. Jy kan streng wees, maar die kind sien in jou hart dat juffrou lief is vir hulle. Hulle moet sien daar is ‘n liefde vir almal rondom jou. As jy ‘n kind liefhet dan gaan jy die beste uit hom kry en ‘n ekstra myl stap.”

Haar raad aan ouers? “Wees elke tree saam met jou kind, dan sal jy die rooi ligte langs die pad sien flikker en dit dan kan hanteer.

“My kosbare vriendinne, die wonderlike Oosskool en my gemeente N.G. Noord,” is dit waarna sy die meeste gaan verlang.

Maar vir nou gaan sy familiebande en haar twee seuns, Gerhard en De Villiers, meer gereeld sien. Hoe dan anders, dit is dan immers haar ánder sewende hemel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button