POLOKWANE – Altesaam 200 komberse is deur Laerskool Pietersburg se ouers en Taberna Dei se gemeentelede vir behoeftige mense ingesamel oor die laaste twee weke.
“Ons het baie goed gedoen. Suidskool het 120 komberse nodig gehad vir 60 behoeftige leerders. Ons het daardie doelpunt bereik en nog ekstra oorgehou. Dis wonderlike nuus,” vertel Nadia du Preez, Mev. Polokwane, wat aan die stuur van die projek staan.
“Daar is steeds komberse wat inkom en ons het besluit om as span saam uit te gaan op straat en komberse aan hawelose mense te gee,” voeg sy by.
Du Preez bedank Chepp vir die borg van die kratte by versamelpunte, Lieflingkind vir die ontwerp van die plakkate en pamflette asook vir Jetline vir die druk van die plakkate en pamflette.
Sy bedank ook die Taberna Dei Ooskampus vir die gebruik van die kerk as versamelpunt, Taberna dei Moederkampus vir die gebruik van die saal as ‘n versamelpunt, Suidskool vir die gebruik van die voorportaal as versamelpunt vir inwoners wat komberse geskenk het.



