POLOKWANE – Die leerders van Akademie Reformia het Vrydag die geleentheid aangegryp om die koue se knyp te versag met lekker warm pantoffels.
Die leerders het elkeen R5 betaal vir die voorreg om snoesige warm pantoffels by die skool te dra.
Die geld wat ingesamel is, sal aan die Polokwane Nasorgsentrum geskenk word.
“Ons kon die Polokwane Nasorgsentrum vanjaar nie help om hul Tekkie Tax-plakkers te verkoop soos verlede jaar nie, omdat ons baie hooi op ons vurk het, maar ons het besluit om iets op ons eie te doen,” het Marietha Nel, Akademie Reformia se skoolhoof, verduidelik.
Avé-Marie Oosthuizen was baie beïndruk met hierdie inisiatief. “Dis lekker om met pantoffels skool toe te kom. Ek wens ons kon dit elke dag doen,” het sy gesê.



