POLOKWANE – Leerders van Hoërskool Pietersburg wat lede is van die skool se Religiegroep gaan ‘n toer na Swaziland onderneem in die wintervakansie.
Dié toer is die tweede van sy soort wat die skool aanbied en vorm deel van die skool se uitreikprogram.
Sewe onderwysers en 16 leerders gaan deur Swaziland reis en kyk hoe hulle die mense van dié land kan help en ‘n verskil kan maak in hul lewens.
Arouna van der Walt is die toerleier en sê die toer bied aan leerders ‘n geleentheid om betrokke te raak by noodverligting in ander lande.
“Dis altyd lekker om te sien hoe die leerders reageer wanneer hulle ander se nood raaksien. Dit maak die wêreld se verskil aan die leerders se uitkyk op die lewe wanneer hulle sien hoe iets kleins wat hulle doen ‘n groot verskil maak in iemand se lewe,” sê sy.



