NewsSchools

Pieties proe-proe al deur die Wes-Kaap

Die opgewondenheid was byna tasbaar toe leerders en onderwysers van Hoërskool Pietersburg (PHS) Sondag op 'n gasvryheidstoer na die Wes-Kaap vertrek het.

POLOKWANE – Die opgewondenheid was byna tasbaar toe leerders en onderwysers van Hoërskool Pietersburg (PHS) Sondag op ‘n gasvryheidstoer na die Wes-Kaap vertrek het.

Die groep het gesê hulle gaan wynplase, ‘n kookskool en verskeie restaurante besoek en het beplan om teen Saterdag weer by die huis te wees.

Die doel van die toer is om leerders bekend te stel aan ‘n verskeidenheid geregte en voorbereidingsmetodes.

Louw de Jager, een van die leerders op die toer, het gesê hy sien baie uit daarna om te leer hoe wyn gemaak word. Hy kon ook nie wag om al die nuwe disse wat die toer sou oplewer te proe nie.

“Ek wil eendag ‘n restaurant besit en kosmaak en wyn is ‘n groot deel van hier-die bedryf. Daarom beteken die toer vir my ongelooflik baie,” het hy gesê.

Louw het ook vertel sy gunsteling gereg is gevulde hoender en hy staan nie ‘n tree terug vir enigiemand in die kombuis nie.

Nog ‘n leerder, Andi Bezuidenhout, het gesê sy wou graag meer oor wyn leer en ‘n verskeidenheid wyne proe.

“Wyn is baie belangrik in die kosbedryf en dis belangrik vir elke sjef om te verstaan hoe wyn die kos komplementeer,” het sy gesê.

Andi het die meeste uitgesien na ‘n sjokoladewerks-winkel wat die groep sou bywoon.

Rouchelle van der Merwe het uitgesien na die kleiner detail van kosmaak wat sy sou leer op die toer.

“Kosmaak is maklik, maar wanneer kleiner detail agterweë bly, kan dit die gereg benadeel. Ek wil graag eendag in sulke detail spe-sialiseer,” het sy gesê.

Sy het vertel dat sy een-dag haar eie restaurant wil besit en dit Fantastic Little Foods sal doop.

Sandra Ramothopo het gesê sy sien die meeste daarna uit om ‘n wye verskeidenheid disse te proe.

“Ek is ook maar bang, want dit sal die eerste keer wees wat ek vlieg.

“Ek kan nie wag om Johnny Hamman van Kokkedore te ontmoet nie. Omdat hy ‘n oud-Pietie is, voel dit net reg dat hy een van die mense is wat ons gaan touwys maak.”

Onderwysers Lizel Swanepoel en Erika Viljoen het gesê hulle wou sien hoe die leerders die toer geniet.

“Dis wonderlik om in hul ervarings te deel en te sien wat ons toekomstige sjefs se eerste indrukke van alles is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button