POLOKWANE – Werner Coetzee was een van HTS Tom Naudé se top matrikulante van 2013.
Review het onlangs by hom gaan aanklop om te verneem hoe hy dit lewe as ‘n student ervaar.
Werner is tans ‘n eerstejaarstudent aan die Universiteit van Noordwes se Potchefstroomkampus en studeer meganiese ingenieurswese.
“Ek geniet die studentelewe baie. Daar is baie uitdagings om te oorkom, want die werk is baie meer en tienduisend keer moeiliker as op skool, maar ek kom goed reg,” het hy vertel.
Werner het vertel dat sy tersiêre studies alles was wat hy verwag het en meer.
“Ek het al gevoel ek wil eerder ‘n makliker studierigting aanpak, maar ek wou nog nooit my studies opskop nie.”
Hy het verduidelik hy wou aanvanklik siviele ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer, maar dat hy nie een oomblik spyt is dat hy nou ‘n Puk is nie.
“Die lekkerste deel van die studentelewe is die vrye tyd wat ek het, die nuwe mense wat ek ontmoet en al die nuwe uitdagings. Die slegste is om arm te wees en 2 Minute Noodles te moet eet.”
Werner het vertel sy gunsteling vak is kalkulus, wiskunde.
“Dit is by verre my gunsteling, al is dit ook die moeilikste vak.”



