POLOKWANE – In Januarie het Review met Wilmé Steyn gesels om te hoor wat dié slimkop se toekomsplanne was. Met agt onderskeidings op haar kerfstok was Wilmé Curro Heuwelkruin se top-matrikulant.
Wilmé het vertel sy is tans ‘n student aan die Universiteit van Pretoria en sy is ingeskryf vir ‘n MB ChB-graad; sy is ‘n mediese student. Haar gunsteling vak is mediese terminologie. “Ek geniet dit baie om nuwe dinge te leer en ek groei baie as ‘n mens. Die studentelewe is nie altyd maanskyn en rose nie, maar dis beslis die moeite werd,” het sy vertel.
“Ek het nie gedink dit sou só ‘n groot aanpassing wees nie, maar ek leer vinnig. Ek begin al hoe meer the hang of things kry. Die studentelewe is ‘n heel nuwe ball game, maar dis ‘n ervaring wat ek voel elke mens moet deurmaak.”
Wilmé het aan Review gesê dat sy wel gedurende die afgelope ses maande gevoel het sy wil haar studies staak, maar dat hierdie gedagte nooit lank gehou het nie.
“Ek is besig om my droom te leef. Hoeveel mense kan dit sê? Ek is regtig too blessed to be stressed.”
Wilmé het vertel die beste deel van haar studentelewe die vryheid is wat sy geniet.
“Ek kan kom en gaan soos ek wil. Ek kan aantrek wat ek wil en ek kan my eie persoon wees sonder om bekommerd te wees of ek gaan inpas of nie. Daar sal wel iewers iemand wees wat saam met jou nie inpas nie. Ek geniet dit ook baie om vir ons koshuis se koerantjie te skryf.”
Die swaarste van haar nuwe lewe was vir Wilmé om ver van haar gesin af te wees vir lang tye aaneen.
“Ons skryf dikwels toetse oor naweke en dan kan ek nie huistoe gaan nie.”
Sy het ook vertel dat onafhanklikheid teen ‘n prys kom. “As ek nie self melk koop vir my tee nie, sal daar nie melk wees vir my tee nie.”



