NewsSchools

PHS-hoof nasionale naaswenner

Hoërskool Pietersburg (PHS) se skoolhoof, Willie Schoeman, wat aangewys was as een van twee finaliste in die kategorie vir leierskap in hoërskole, het as die naaswenner uit dié kompetisie getree.

POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg (PHS) se skoolhoof, Willie Schoeman, wat aangewys was as een van twee finaliste in die kategorie vir leierskap in hoërskole, het as die naaswenner uit dié kompetisie getree.

Jaarliks benoem die SAOU een skoolhoof uit elke provinsie vir hierdie toekenning en die twee top-kandidate dring deur na die nasionale ronde. Vanjaar is die twee finaliste in hierdie kategorie Willie Schoeman van die Hoërskool Pietersburg en Louis Swanepoel van Hoërskool Nelspruit.

Schoeman vertel dat hy bykans 29 jaar lank al ‘n onderwyser is en 17 jaar lank ‘n skoolhoof. Hy het in 2008 by PHS ingeval en het nie gras onder sy voete laat groei nie voordat hy dié skool gelei het na suksesse op akademiese en sportgebied.

Een van die grootste bydraes was die beplanning en bou van Limpopo se eerste astroturfhokkiebaan.

Schoeman besef die erns van sy posisie as lid van die SAOU se provinsiale uitvoerende raad en meen dit help baie om onderwyssake op hoë regeringsvlakke aan te spreek tot voordeel van die provinsie se skole.

“Ek is maar te deeglik bewus van SAOU-ledeskole se afhanklikheid van die uitvoerende raad se besluite en wat hulle vir die onderwysstelsel kan beteken.

Dit is ook waarvoor dat ek myself beywer om te kyk na die opheffing van onderwys in Limpopo. Volgens die voorsitter van PHS se beheerliggaam, dr. Mannie Krüger, is Schoeman se toekenning ‘n groot pluimpie vir die skool.

“Ons is trots op ons hoof en dankbaar dat sy harde werk op dié wyse beloon word,” het Krüger gesê. Skakelbeampte van die skool Anna-marie Schoeman het gesê dis nie aldag dat ‘n skool met sy hoof kan spog as nasionale naaswenner in die SAOU se kompetisie vir leierskap in hoërskole nie.

“Ons is baie trots op ons hoof en wens hom van harte geluk. Hy pluk die vrugte van harde werk en baie opoffering vir PHS,” het sy gesê. Willie vertel dat die toekenning as een van die twee top hoofde in die land vir hom ‘n baie groot eer is maar meer as dit, is die eer wat die kroon plaas op baie jare se harde werk.

“Dr. Louis Swanepoel is ‘n voorloper op die gebied van onderwysleierskap in Suid Afrika en om saam met hom in aanmerking te kom vir die toekenning is bewys dat harde werk betalend is,” het hy opgemerk. “Ek wil graag elke leerder, onderwyser en ouer wat hierdie toekenning moontlik gemaak het, asook die SAOU, bedank. Ek is opgewonde oor die pad vorentoe,” het Schoeman gesê.

Related Articles

Back to top button