Tandarts kritiek na hartaanval
Ds. Thys Fourie, eggenoot van die geliefde Lida Fourie, 'n tandarts wat al jarelank in Polokwane praktiseer en tans in die Limpopo Mediclinic in die waaksaal lê, het gerugte dat sy breindood is die nek ingeslaan.

POLOKWANE – Ds. Thys Fourie, eggenoot van die geliefde Lida Fourie, ‘n tandarts wat al jarelank in Polokwane praktiseer en tans in die Limpopo Mediclinic in die waaksaal lê, het gerugte dat sy breindood is die nek ingeslaan.
Fourie sê breinskanderings toon dat daar wel moontlik breinskade mag wees, maar oor die aard en erns daarvan sal slegs die tyd leer.
“Onder omstandighede gaan dit redelik goed. Sy is stabiel en haal op haar eie asem,” sê hy.
Hy vertel dat sy vrou en twee van hulle drie seuns Saterdag gaan koffie drink het by ‘n bekende koffiewinkel in die stad.
“Lida het, nog voor die koffie gekom het, gesê dat sy duiselig voel en met haar kop op haar arms gaan lê. Sy het haar bewussyn verloor en ‘n hartstilstand gehad. Minder suurstof is na haar brein vervoer. Sy is na die hospitaal geneem waar sy gestabiliseer is.”
Daar is aanvanklik vermoed dat ‘n bloedklont deur haar longe is, maar toetse het getoon dat dit ‘n hartaanval was.
Die nuus van haar siekte het talle boodskappe van bemoediging vir die familie sowel as van mense wat vir haar bid tot gevolg gehad op Facebook.
“Ons bid vir jou, want jy is kosbaar vir ons”, “ons bid vir spoedige beterskap,” is van die boodskappe. ‘n Facebook-blad is ook vir ‘n gebedsgroep gestig en teen Woensdag was daar reeds bykans ‘n honderd lede op die blad. Talle boodskappe aan die gesin word daarop geplaas.
Fourie is baie dankbaar vir die oorweldigende ondersteuning wat hy vanuit die gemeenskap ontvang, maar sê dat hy ongelukkig nie alle oproepe kan beantwoord en op alle boodskappe kan reageer nie, maar dit word opreg waardeer.
“Ek kan nie beskryf hoe almal probeer goed doen en help nie. Baie, baie dankie. Die mense dra ons op die hande. Ons probeer antwoord maar kan regtig nie by almal uitkom nie.”



