NewsSchools

Nou ‘n trotse Puk

Tanica Pretorius was verlede jaar nog 'n leerder aan Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en nou is sy in Potchefstroom waar sy chemiese ingenieurswese aan die Noordwes Universiteit studeer.

POLOKWANE – Tanica Pretorius was verlede jaar nog ‘n leerder aan Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en nou is sy in Potchefstroom waar sy chemiese ingenieurswese aan die Noordwes Universiteit studeer.

Op skool reeds was sy ‘n uitblinkerstudent en het vyf onderskeidings in gr. 12 behaal. “Vir die twee wat ek gemis het, het ek wel ‘n 76%-gemiddeld behaal,” vertel sy trots.

Nie net was sy sterk agter die boeke nie, maar sy het ook presteer op die sportveld waar sy in atletiek en ringbal meegeding het. Sy was boonop onderhoofmeisie van sport op skool.

“Tans neem ek meer aan kultuurbedrywighede by die universiteit deel, soos sêr, debat en Bingle-sêr. Ek het ook eerstejaarstoneel gedoen waar ek koor gesing het, asook twee solo’s.”

Tanica vertel sy geniet haar studies baie.

“Dit is beslis my passie. Dit is nie alles wat ek verwag het nie, dit is soveel meer. Ek sou medies wou swat, maar ek is dolgelukkig waar ek nou is.”

In haar vrye tyd, vertel sy, drink sy tee by haar vriendinne in die koshuis.

“Ons kyk ook gewoonlik sommer flieks saam in ons kamers.” Sy vertel dit is baie ontmoedigend as jy drie uit 10 vir ‘n wiskundetoets kry, maar al voel jy jy wil opgee moet jy maar vasbyt. Sy sê ook dat sy twee onderskeidings in die afgelope eksamen behaal het.

Vir Tanica is die studentesentrum se kos een van die beste dinge van student wees.

Die slegste deel, sê sy, is om 20 hoofstukke en 400 bladsye te leer vir ‘n toets “en om te leer dat slaap nie meer in jou wêreld bestaan nie”.

Die vryheid van studentwees is ook wonderlik, vertel sy, maar sy erken dat sy haar huismense en diere baie mis. “Ons het baie katte hier en ek is nou mal oor hulle. Ek was ook al twee keer deur blou ape gejaag.”

Inligtingstegnologie en rekenaarswetenskap (ITRW112), en chemie is haar gunsteling vakke en sy vertel trots dat sy 88% vir ITRW se afgelope eksamen behaal het. Vir die semester wat voorlê het sy agt vakke.

“Ons doen baie van ons werk elektronies. Dis baie gerieflik,” sê sy.

Sy het ook al heelwat vriende gemaak.

“Op die Puk groet almal mekaar so jy groet vreemde mense ook. Dis so lekker en almal is baie vriendelik.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button