POLOKWANE – Die slimkop van Westenburg wat verlede jaar matriek met vyf onderskeidings geslaag het, spog met twee onderskeidings na die eerste semester van haar eerste jaar op universiteit.
Review het in Januarie berig oor hoe Sadé Crowder (19) se bure vir haar ‘n erewag gevorm het en vir haar hande geklap het soos wat sy na haar huis toe gestap het nadat die 2013-matriekuitslae bekendgemaak is.
Crowder, oud-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS), studeer tans regte aan die Universiteit van Pretoria.
“Dit was ‘n groot aanpas-sing om so ver van die huis af te wees. Ek moes leer om alles op my eie te doen en daar was nie meer ‘n oupa en ouma om my wakker te maak in die oggende voor klas nie. Ek het vinnig geleer om selfstandig en verantwoordelik te wees en dit het my verstandelik en emosioneel baie laat groei in die eerste helfte van die jaar.
“Ek bly in die koshuis en die ontgroening was net so moeilik gewees. Elke oggend moes ons om 05:00 opstaan en die gangleier wakkersing.
“Ons moes ook elke oggend vir haar iets maak om te drink. Dit was nag, maar tog ook pret, want ek het nuwe vriende gemaak,” het sy aan Review vertel.
Volgens Crowder is universiteit beslis nie kinderspeletjies nie.
“Dit is belangrik om te onthou hoekom jy op universiteit is, anders kan jy gou kop verloor en uitsak.
Dit is baie anders as op skool; hier gee niemand om of jy in die klas is of nie, dit is jou verantwoordelikheid om te sorg dat jy in die klas is en jou werk doen.
“Niemand kyk of jy jou huiswerk gedoen het soos op skool nie. As jy dit nie doen nie, moet jy die verantwoordelikheid dra as jy druip aan die einde van die jaar.”
Crowder het bygevoeg dat sy baie van haar lektors hou, want hulle is vriendelik en verduidelik die werk op só manier dat sy dit goed verstaan.
“Ek het twee onderskeidings uit vier vakke gekry. Ek sien uit na nog meer in die tweede helfte van die jaar.
“Ek kan nie wag vir ons om weer te begin met mo-derne letterkunde nie; dit is een van my gunsteling vakke.
“My advies vir ander jongmense is: wanneer daar ‘n geleentheid kom om verder te studeer, gryp dit aan met albei hande aan, want daar is nie ‘n beter ervaring as universiteit nie.”



