MAKHADO – Die leerders van die CVO-skool Zoutpansberg het Maandag kans gekry om hul beste Donald Trump-voetjies voor te sit tydens die skool se entrepreneursdag.
Die leerders het die geleentheid met albei hande aangegryp en stalletjies beman waar daar ‘n wye verskeidenheid items te koop was; van die heerlikste eetgoed tot oulike handgemaakte mooigoed.
Dit het gelyk asof die Zouties marknavorsing gedoen het, want die kosstalletjies het die kollig gesteel; almal moet immers eet en die kosbedryf is deesdae baie geld werd.
Heerlike kosgeure het in die lug gehang en kopers kon smul aan appelliefies, sneeuhorinkies, bruintjies, koekies en kampkos soos jaffels. Daar was ook smaaklike drinkgoed te koop, van koffie en warmsjokolade tot “mocha choca” en koeldranke.
Aan die einde van die dag kon die kopers en verkopers ewe tevrede huiswaarts keer na ‘n suksesvolle entrepreneursdag.



