Klopjag lei tot arrestasie van 15 leerders in Makhado
'n Klopjag by Hoërskool Louis Trichardt het tot die arrestasie van 15 leerders weens dwelmbesit gelei.

MAKHADO – ‘n Klopjag by Hoërskool Louis Trichardt het tot die arrestasie van 15 leerders weens dwelmbesit gelei.
Verlede Vrydag het polisiebeamptes by die skool opgedaag en ‘n klopjag uitgevoer as deel van die polisie se bewusmakingsveldtog oor dwelms en wapens in Makhaodo, het A.O. Takalani Madzhigili, Makhado polisiewoordvoerder, aan Review gesê.
Volgens Madzhigili het die polisie 15 leerders tydens hierdie klopjag in hegtenis geneem. Van hierdie 15 was 11 minderjarig.
“Die leerders wat gearresteer is, het óf verbode dwelmmiddels óf gevaarlike wapens in hul besit gehad óf hulle is positief getoets vir dwelmmiddels.
Die leerders het Maandag in die Makhado landdroshof verskyn. Die minderjariges is onder hul ouers se toesig vrygelaat en het Woensdag (gister) weer verskyn. Hulle sake is afgehandel.
“Die leerders wat ouer as 18 is, is op waarskuwing vrygelaat en moet op 11 Augustus weer in die hof verskyn,” het hy verduidelik.
Review kon nie vasstel wat die uitkoms van die minderjarige leerders se hofsake was nie.
Hoërskool Louis Trichardt se waarnemende hoof, Theo Muller, het aan Review gesê die skool het die afgelope vier jaar telkens hulp van die polisie gevra omdat hulle sukkel om dwelms en wapens in die skool te beheer.
“Ons is regtig bly die klopjag het Vrydag plaasgevind. Ons het die polisie gevra om gou weer so ‘n klopjag te doen. Die skool het ‘n verantwoordelik teenoor die leerders en ons sal voortgaan met ons eie bewusmakingsveldtog,” het hy verduidelik.
Muller het gesê die skool sal leerders wat in hegtenis geneem is help. “Sodra ons die polisieverslae het en kan sien presies watter dwelms of wapens die leerders by hulle gehad het, sal ons kan besluit oor die beste moontlike manier om die leerders te help.”
Hy het vertel dat van die leerders wat gearresteer is se ouers voorheen reeds met hom gepraat het oor hul kinders se dwelmpro-bleme. “Ander ouers het geen idee gehad dat hulle kinders dwelms gebruik nie.”
Volgens hom is geen besluite nog geneem oor die toekoms van die leerders wat gearresteer is nie, maar hy “sien geen rede waarom ons hulle die skool geweier moet word nie”.
Een van die leerders se ouers het ook met Review gepraat.
“My kind het die oggend pynpille gedrink wat kodeïen bevat het. Soos ek dit verstaan, is kodeïen ‘n opiaat. My kind het vir die polisiebeamptes gesê hy het pille gedrink, maar hulle het hom nogsteeds getoets en gearresteer.
“Dit is ‘n goeie idee om ‘n klopjag by die skool te doen, maar dan moet dit op die regte manier gedoen word. Ek dink daar het baie dinge gebeur wat nie volgens wet reg was nie. Die kinders is getraumatiseer, afgebreek en verneder,” het die ma gesê.



