NewsSchools

Stoeiers vat só raak

Die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé spog met twee leerders wat puik presteer in stoei.

POLOKWANE – Die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé spog met twee leerders wat puik presteer in stoei.

Elbert Steyn en Roedie Roets, twee 17-jarige stoeiers van die Ion Baciu Stoeiklub, het onlangs deelgeneem aan die Afrika-kampioenskappe in Egipte.

Steyn het goud gewen en ook gekwalifiseer om deel te neem aan die Jeug-Olim-piese Spele wat in Nangtjeng, China gehou sal word in Augustus.

Hy is een van drie Suid-Afrikaners wat gekwalifiseer het en die span vertrek op 20 Augustus na China.

Steyn stoei al sedert hy ses jaar oud was.

“Ek geniet die sport. Die enigste uitdaging is om by ons eetplan te hou. Ons volg ‘n baie streng dieet, omdat ons ‘n sekere gewig moet behou. Die hoogtepunt van die sport vir my is die gevoel wat ek kry wanneer ek ‘n kompetisie wen. Dit is onbeskryflik,” vertel Steyn.

Hy voeg by dat hy nie meer kan wag om aan die Jeug-Olimpiese Spele deel te neem nie.

“Dit is vir my ‘n groot eer en ek is baie opgewonde. Dis al waaraan ek kan dink en ek tel die dae af tot wanneer ons vertrek,” vertel hy opgewonde.

Roets het twee silwer medaljes gewen en ook ge-kwalifiseer om deel te neem aan die wêreldkampioenskappe in Slovakia.

Hy kon egter nie aan dié kompetisie deelneem nie weens persoonlike redes.

“Dit was vir my ‘n groot eer om te kwalifiseer vir die wêreldkampioenskappe, maar ek was hartseer en teleurgesteld omdat ek nie gekwalifiseer het vir die Jeug-Olimpiese Spele nie.

“Maar dit motiveer my om harder te werk sodat ek volgende keer wel kwalifiseer.

“Die dieetplan is vir my ‘n uitdaging en die drills is aaklig, maar anders is stoei vir my baie lekker. Ek geniet elke oomblik daarvan, veral wanneer ek wen,” sê Roets.

Die twee tienerseuns sê hulle het nie veel van ‘n sosiale lewe nie, omdat hulle ses dae ‘n week oefen, Maandae tot Vrydae en ook Sondae. Saterdae neem hulle aan stoeikompetisies deel.

“Ons oefen tussen vier tot vyf ure elke dag. Tussen skoolwerk en oefening het ons nie regtig tyd vir kuier, meisies of skool sokkies nie.

“Maar die smaak van wen maak dit die moeite werd om nie veel van ‘n sosiale lewe te hê nie,” sê Roets en Steyn.

Die twee leerders het ook vanjaar deelgeneem aan die Presidente Suid-Afrikaanse-kampioenskappe in Kaapstad en ook die Suid-Afrikaanse-kadetkampioenskappe in Johannesburg en het altwee met goue medaljes in albei kompetisies weggestap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button