POLOKWANE – Saterdag, op Vrouedag, het drie finaliste van die Mnr. en Mej. Heuwelkruin-kompetisie besoek afgelê by Jo-Anne Rusoord.
Nicolette De Kock, Zandré De Vos en Ilanie Heystek het kolwyntjies saamgeneem en ook wors gebraai om vir die inwoners heerlike worsrolletjies te maak. Daar was ook smaaklike slaaie om aan te smul. Stefan Nel, nog ‘n finalis, kon egter nie daar wees nie.
Anne-Marie Massyn, die russoord se eienaar, het vertel dat die bejaardes elke kuier van die leerders baie waardeer. “Die inwoners het liefgeraak vir die kinders,” het sy gesê.
Michelle de Vos, Zandré se ma, het gesê die groep het gehoop vir ‘n sonnige dag, maar dat die weer nie bepaal het hoe lekker hulle gekuier het nie.
“Ek waardeer dit so om die kinders se gesiggies te sien,” het Gloria Glunterkamp, een van die inwoners, gesê.



