NewsSchools

PHS se eersterugbyspan trek deesdae in styl aan

Stefaans en Michelle Schoeman, eienaars van CW Towing, het onlangs besluit 'n spogskool met 'n spogrugbyspan moet ook 'n spogkleedkamer kry vir daardie rugbyspan.

POLOKWANE – Stefaans en Michelle Schoeman, eienaars van CW Towing, het onlangs besluit ‘n spogskool met ‘n spogrugbyspan moet ook ‘n spogkleedkamer kry vir daardie rugbyspan.

Verlede Vrydagoggend het Stefaans en Michelle die sleutels van die herontwerpde kleedkamer aan Hoërskool Pietersburg se skoolhoof, Willie Schoeman, oorhandig.

Schoeman het die sleutel op sy beurt aan die kaptein van die eerstespan, Hardus Geldenhuys, oorhandig.

PHS se eersterugbyspan sal voortaan die laaste voorbereidings vir hul tuiswedstryde in ‘n kleedkamer doen wat ingerig is soos die provinsiale rugby-unies se kleedkamers. Elke speler het ‘n aparte aantrekhokkie waar hy sy wit eerstespantrui sal kan ophang.

“Ek het eendag in die eerstespan se kleedkamer ingestap en gedink die seuns verdien ‘n spesiale kleedkamer. Hulle werk so hard om die eerstespan te haal en om die skool se naam hoog te hou. Ek wou hê hulle moes voel soos ‘n eerstespan,” het Stefaans aan Review vertel.

“Ek is al jare lank betrokke by die skool se beheerliggaam en ek het ook kinders in die skool. Daarom wou ek iets vir die seuns doen.”

Schoeman het gesê die nuwe kleedkamer sal ook ‘n nuwe tradisie by die skool begin. Van volgende jaar af sal die 0/14-rugbyspelers op die vloer van die kleedkamer slaap voor hul eerste wedstryde van die seisoen.

“Dit sal die eerste en enigste keer wees wat die 0/14-spelers in die eerstespan-kleedkamer mag ingaan totdat hulle eendag self vir die eerstespan uitdraf,” het hy verduidelik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button