POLOKWANE – Johan Kruger is is een van daardie mense wie se hande vir niks verkeerd staan nie; ‘n moderne Midas wat alles waaraan hy raak in goud laat verander.
Hierdie gr. 12-leerder van Hoërskool Pietersburg se lys van prestasies sluit in:
• Hy het onlangs aan die Amesa Wiskunde Olimpiade deelgeneem by die Universiteit van Limpopo en ‘n nasionale eerste plek behaal.
• Hy speel al vir twee jaar lank vir PHS se eerstehokkiespan.
• Hy het vanjaar alleen al ses vakpryse ingepalm.
• Hy neem elke jaar deel aan die skool se redenaars en debatte, revue, Mnr. en Mej. PHS, gholf en atletiek.
Johan is veral trots op sy akademiese prestasies. “Sedert gr. 4 is ek elke jaar onder die top 10 van my jaargroep,” vertel hy.
Sy resep vir akademiese sukses wentel om daaglikse deelname in die klas.
“Dis baie belangrik om op te let in die klas en vrae te vra indien jy iets nie verstaan nie.
“Soms is dit moeilik om te konsentreer in die klas, maar as jy luister in die klas en die werk verstaan hoef jy net die werk vinnig te hersien vanmiddag. Dan is dit makliker om vir toetse en die eksamens te leer.”
Johan sê sy sportdeelname is ‘n belangrike bousteen vir sy akademiese prestasie, want sport gee hom kans om te ontspan en dan kan hy met ‘n oop kop agter die boeke inskuif.
Hy is nog nie seker of hy in ‘n mediese of rekeningkundige rigting wil studeer volgende jaar nie, maar sy vakkeuses laat gelukkig beide rigtings toe.
Hy is ‘n báie trotse Pietie. “Ons familie stap al ‘n lang pad saam met die skool. My pa, Mannie, was onderhoofseun in 1983 en is vandag die beheerliggaamvoorsitter. My suster, Christine, was verlede jaar hoofmeisie,” vertel hy.
Hy sê PHS bied ‘n wye verskeidenheid geleenthede vir leerders op verskillende vlakke wat ‘n afgeronde ontwikkeling verseker.



