POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg se gr. 12-leerders het ‘n goue tradisie waar dié groepe jaarliks ‘n geskenk aan die skool gee waarmee hulle onthou kan word.
Vanjaar se gr. 12’s het verskeie voorstelle oorweeg en uiteindelik besluit om onafhanklike wapens vir die skool se koshuise te ontwerp.
Hierdie idee was die breinkind van Richardt Stroebel, Ninene Engelbrecht, Elizabeth Grobler en Emil Glas.
Elizabeth, ‘n voornemende inligtings-ontwerp-student, het die wapens ontwerp.
Sy het aan Review verduidelik hoe sy PHS se eie skoolwapen as inspirasie gebruik het.
“Ek het van die begin af geweet ek moet die steenbokkie wat op die skoolwapen is, op die meisies se wapen gebruik,” het sy gesê.
“Op die seuns se wapen het dié bokkie plek gemaak vir ‘n koedoe want dié is immers meer manlik en dui op die bosveld. Die takkies met lourierblare dui op die lourierkrans wat deel vorm van PHS se erekleure.”
‘n Duidelike sirkel, geïnspireer deur die son op PHS se skoolwapen, omsluit die simboliek.
Eie aan die gees onder PHS se koshuisinwoners, het die gr. 12-groep die woorde, Carpe Diem, Gryp Die Dag, as leuse onder die wapen ge-kies.
“Dit was vir my ‘n voorreg om die wapens te ontwerp,” het Elizabeth gesê.
“Dit sal so lekker wees om oor 50 jaar hier te kom en steeds iets van myself hier te vind,” het sy bygevoeg.



