POLOKWANE – Met pragtige helderkleurige en kreatiewe hoede het die kleuters van Werk en Wen Kleuterskool verlede Maandag Lentedag gevier.
Die jongspan moes hul eie inisiatief gebruik om hoedjies te maak met die hulp van hul ouers wat moes pas by die tema van die dag. Die tema was Groenvingertjiedag.
Die kleuters het verskillende items van die huis af gebring om te plant. Party het bolle en knolle en ander sade, kruie en plantjies gebring.
Dié het hulle self in die tuin geplant met die hulp van hul onderwysers.
Die doel van die projek was om die kinders bewus te maak van natuurbewaring en die belangrikheid van plante,” het Monica Strauss, hoof van die kleuterskool, verduidelik.
“Met hulle eie groente- en kruietuin kan die kleuters die verskillende groente en kruie identifiseer en ook leer hoe dit proe en ruik. Hulle leer ook hoe om groente te pluk.”



