MAKHADO – Die leerders van Laerskool Louis Trichardt het Vrydag drie feesvieringe in een gehad toe hulle lentedag, boomplantdag en erfenisdag by die skool gevier het.
Onderwyser Christine Venter het vertel die leerders kon in gewone drag skool bywoon en almal het ‘n heerlike massa-piekniek saam geniet.
Leerders en onderwysers het mekaar ook op die sokkerveld uitgedaag in goeie gees.
Terselfdertyd het die verteenwoordigende leerling-raad ook Erfenisdag gevier deur kolwyntjies, koffie en tee aan die onderwysers voor te sit.
Om ‘n heerlike dag af te sluit het die skool se hoofseun en -meisie twee bome geplant ter aandenking van boomplantdag.
Volgens Venter het die leerders op ‘n olyfboom en ‘n rooi essenhout besluit omdat hierdie vinniggroeiende bome is wat baie koelte bied.
Die skool se atlete sal mettertyd onder hierdie bome bymekaarkom tydens byeenkomste. Die dag was ‘n groot sukses.



