Hoërskool Pietersburg (PHS) het verelede week die swemseisoen ingewy met hulle jaarlikse Sterre-interhuis-swemgala.
Die wenner van die junior Victor Ludorum-trofee, Ivan Beukes, het beïndruk met sy prestasies in die swembad. Hy het eerste plekke behaal in die individuele wisselslag, vlinderslag, rugslag en vryslag.
Hy het ook in die borsslag-item ‘n tweede plek behaal.
Elana Jordaan het met die junior Victrix Ludorum-trofee weggestap nadat sy eerste plekke in die individuele wisselslag, vlinderslag, borsslag, rugslag en vryslag losgeswem het.
PHS se senior Victor Ludorum, Ude Fuchs, het gewys waarom hy beskou word as een van Suid-Afrika se beste jong swemmers.
Hy het skoonskip gemaak in al die items waarvoor hy ingeskryf het en eerste plekke behaal in die individuele wisselslag, vlinderslag, borsslag, rugslag en vryslag.
Sulé van der Merwe het vier eerste plek-ke en ‘n tweede plek losgeswem om aan die einde van die gala as senior Victrix Ludorum aangewys te word.
Sy het eerste plekke in die individuele wisselslag, vlinderslag, vryslag en rugslag behaal asook ‘n tweede plek in die borsslag-item waaraan sy deelgeneem het.
Sterre-spanuitslae:
1. Aarde, 264 punte.
2. Saturnus, 258 punte.
3. Venus, 209 punte.
4. Jupiter, 156 punte.



