POLOKWANE – 5 Oktober was Wêreld Onderwyserdag en Review het met ‘n onderwyser gaan gesels.
Hennie Prinsloo (50) het sy onderwysdiploma by die voormalige Normaal Kollege Pretoria (NKP) voltooi en daarna ‘n honneursgraad in vergelykende onderwys tussen Nigerië, Suid-Afrika en Somalië by die Universiteit van Noordwes in Potchefstroom voltooi.
“Ek was reeds ingeskryf om oogkunde te studeer toe ek besef het my ouers sou die kursus nie kon bekostig nie,” vertel hy.
Hy kon met ‘n onderwysbeurs studeer en sê hy was nog nie een dag spyt nie.
“My eerste pos was as in my tweede jaar in die weermag. Ek moes vir die Boesmans in Omega skoolhou. Hulle het die Namibiese sillabes gevolg en ek het onder andere wiskunde aangebied.
“Maar my eerste werklike pos was in Mokopane by Laerskool Krugerpark waar ek vir 19 jaar betrokke was.”
Tans bied Hennie wiskunde aan vir gr. 6- en 7-leerders by Mitchell House.
“Die onderwys van destyds verskil hemelsbreed van die onderwys van vandag.
“In staatskole is daar te veel administrasie wat onderwysers moet behartig.
“Hoe mooier jou lêer is, hoe beter onderwyser is jy. En die dissipline in staatskole het geweldig agteruit gegaan.”
As daar een ding is wat Hennie aan vandag se onderwys sou wou verander, is dit juis om die administrasie minder te maak.



