POLOKWANE – Morné Marais is ‘n Mnr. Suid-Afrika-finalis wat hierdie kompetisie gebruik om bewusmaking oor boeliegedrag te skep en met leerders oor hierdie probleem te praat.
Morné sê hy was self nooit ‘n slagoffer van boelies nie, maar een van sy vriende het selfmoord gepleeg nadat hy geboelie is.
Daarom lê hierdie kwessie hom so na aan die hart.
Woensdag het Morné by Hoërskool Pietersburg met leerders gesels oor boelies, wat boeliegedrag behels en watter invloed dit op die slagoffer het.
Hy het verduidelik dat daar verskeie maniere is om iemand te boelie en uiteindelik kom die probleem neer op ‘n gebrek aan respek.
“As jy goedhartig en eerlik is, het jy respek vir ander mense en sal jy jou nie aan boeliegedrag skuldig maak nie. Daarom gebruik ek Korintiërs 13 as basis vir al my toesprake. Indien jy mense met liefde en respek behandel, sal jy nie boelie nie.”
Hy het leerders vermaan om mooi te dink oor wat belangriker is; hul eie reputasie op skool of die res van die boelieslagoffer se lewe.
“Elkeen van ons kan ‘n verskil in iemand se lewe maak deur net te luister.
“Indien jy ‘n slagoffer van boelies is, bly weg van negatiewe vriende af en kry iemand om mee te praat voor dit te laat is,” was sy raad.
Die Mnr. Suid-Afrika-kroning vind plaas op 12 Desember.



