POLOKWANE – Curro Heuwelkruin se Pro20-seniorkrieketspan het verlede Dinsdag op hulle tuisveld teen die span van Northern Knights te staan gekom en hierdie Pro20-skoleligawedstryd met 88 lopies gewen.
Die Northern Knights-span is ‘n same-stelling van spelers van Curro Northern Aca-demy, Capricorn High School en Taxila Secondary School. Curro Heuwelkruin het eerste gekolf en 179 lopies behaal vir die verlies van vyf paaltjies in hul toegelate 20 beurte.
Dit was veral Jarrod Kenmuir met sy indrukwekkende 61 lopies van slegs 54 balle wat die Northern Knights-span hoofbrekens besorg het. Sy spanmaat, Ross Pretorius, kan beslis ook nie uitgelaat word nie en met sy beslissende 43 lopies van net 34 balle nie uit nie het hy Curro Heuwelkruin gehelp om ‘n baie uitdagende kolfteiken vir die Northern Knights-span op te stel.
Alhoewel die Northern Knights-span se kolwers alles in hul mag probeer het om ‘n indruk op die Curro Heuwelkruin-teiken te maak, was dit uiteindelik nie vir hul beskore nie. Daarvoor het die teenstanders se boulers op hul tuisveld gesorg.
Die grootste skade is deur twee Curro Heuwelkruin boulers, David van den Berg en Hanno Jacobs, aangerig.
David het vier paaltjies vir slegs 18 lopies in sy vier beurte geneem.
Hanno het drie paaltjies vir 11 lopies in vier beurte laat val om Northern Knights se aanslag te help stuit.
Northern Knights het geen antwoord op Curro Heuwelkruin se boul-aanslag gehad nie en is uiteindelik vir slegs 91 lopies uitgeboul.



