POLOKWANE – Agt leerders van Laerskool Pietersburg (Suidskool) is verlede Woensdagaand ingehuldig as leiers van die skool se Werk en Wen Kleuterskool.
Rochelle Blom, Jessica Jordaan, Simoné de Beer, Beverly van Wyk, Casey Jackson, Marisha Hattingh, Suzanne Vermaak en Leandré Kruger is as die nuwe Werk en Wen-leiers verkies en het hulle balkies ontvang.
Die funksie het ook gedien as ‘n geleentheid om die uittredende leiers te groet en te bedank vir hulle diens oor die afgelope jaar.
Monica Strauss, hoof van Werk en Wen, en Peet Bredenkamp, hoof van Suidskool, het die geleentheid bygewoon en die nuwe leiers voorspoed toegewens.
“Dit is ‘n eer om as leier verkies te wees en ons glo en vertrou dat julle hierdie unieke leierskapsgeleentheid sal sien as ‘n kans om te leer en te groei,” het Bredenkamp tydens die seremonie gesê.
Strauss het ‘n boodskap oor spanwerk en innerlike groei aan die nuwe leiers gelewer met ‘n interaktiewe video en kort inspirerede toneelstukkie.
“Ons groet vanjaar se leiers met ‘n glimlag en ‘n traan. Julle het die kleuters se klein handjies gevat en hulle sal julle elkeen onthou vir jul diens en ondersteuning,” het Strauss aan die uittredende leiers gesê.
Die uitredende leiers, Syndene Louw, Bernice Hamman, Charnay Smith, Leandra Jacobs, Shanté Needham, Thea-Lisa van Wyk, Debbie Glas, Ziany Kuilder, Chiara Crotti en Leatitia Muller het die onderwysers van Werk en Wen bedank vir ‘n wonderlike jaar en het aan elkeen ‘n geskenk oorhandig.



