POLOKWANE – Verlede Vrydagaand het die akteurs van die Polokwane Drama-akademie op die planke geklim by Laerskool Pietersburg-Oos om te wys wat hulle deur die jaar geleer het.
Die akademie se stigter en dramaskrywer, Louise Groenewald, het sekergemaak dat haar studente die gehoor behoor met ‘n moderne verwerking van Sneeuwitjie en ‘n oorspronklike toneelstuk uit Louise se pen, Lisa.
Die juniorgroep het Sneeuwitjie opgevoer en die gehoor laat skater met elke kwinkslag.
“Verlede jaar het ons Doringrosie aangebied en sit was ‘n reuse sukses.
“Ek dink dit werk nogal goed om bekende feëverhale te moderniseer. Die studente geniet dit ongelooflik om hulself in hierdie rolle te verloor,” het Louise gesê.
Die seniorgroep het Lisa opgevoer, ‘n toneelstuk wat Louise oorspronklik verlede jaar as kortfilm vir die KykNet Silwerskerm Fliekfees geskryf het.
“Alhoewel Lisa eintlik vir volwasse akteurs bedoel is, het van my studente die draaiboek gesien en wou dit opvoer.
“Na drie maande se harde werk het die eindproduk my verstom,” het sy verduidelik.
Die Polokwane Drama-akademie sal weer volgende jaar aan die werk spring sodra die skole na die somervakansie heropen het.
Louise het verduidelik dat sy in die eerste twee skoolkwartale aan basiese tegniek werk. In die tweede kwartaal neem die meeste van haar studente aan die Bosveld Kunstefees deel en dan help sy hulle om voor te berei en skryf selfs stukke vir haar studente.
In die laaste kwartaal van die jaar werk hulle aan die akademie se jaarlikse konsert.
Vir meer inligting oor die Polokwane Drama-akademie se aanbiedinge, skakel Louise by 084 800 6114.



