POLOKWANE – Laerskool Pietersburg (Suidskool) se jaarlikse Suid Jolyt Fees het Saterdag mense van heinde en verre na die sportvelde van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé gelok.
Die fees het om 08:00 afgeskop en daar was verskeie stalletjies waar feesgangers iets kon koop om te eet of drink, kon teikenskiet en handgemaakte artikels koop.
Daar was ‘n spesiale speelarea vir die jonger geslag, ‘n potjiekoskompetisie, die Mnr. en Mej. Suid Jolyt-skoonheidskompetisie en ‘n verskeidenheid gaskunstenaars om die feesgangers te vermaak.
Mnr. en Mej. Suid Jolyt-wenners:
• Erandi Cilliers, ouderdomsgroep vyf tot agt jaar.
• Chante Serfontein, ouderdomsgroep nege tot 12 jaar.
• Marchelize Beukes, ouderdomsgroep 13 tot 15 jaar.
• Cameron Gilburt, Mnr, Suid Jolyt.
• Sinead Otto, Mej. Suid Jolyt.
Die drie hoofkunstenaars wat feesgangers vermaak het was Hans Dromedaaris, Etha en Thys die Bosveldklong.
Hans het sy loopbaan begin deur in kroeë en restaurante te speel. “Dit is soos die weermag. Jy moet dit doen anders sal jou aanhan-gers jou nooit waardeer wanneer jy eendag ‘n sukses is nie,” sê hy.
Etha is ‘n sangeres wat haar eie kop volg wanneer dit by vermaak kom en sê dit is die rede vir haar groeiende sukses as sangeres.
Feesgangers het Thys die Bosveldklong se optrede geniet en sy kwinkslae het mense laat skaterlag.
In die potjiekoskompetisie het die spanne van Maxidor, McCarthy Motors en die Suidskool Ondersteunersklub mekaar opgedreun.
Maxidor het hierdie kompetisie ge-wen. Volgens Louisa de Kock, ‘n lid van die wenspan, het die wenpot sy eerste plek te danke aan bruinsuiker en ‘n geheime bestandeel wat sy nie kon verklap nie.
Childline het ook ‘n stalletjie by hierdie fees beman om bewusmaking te skep oor kinders se regte.
“Dit is vir ons baie belangrik om betrokke te wees by ‘n fees soos die Suid Jolyt Fees omdat dit die hartklop van die gemeenskap is. Kinders is die belangrikste deel van ons gemeenskap en daarom is bewusmaking oor hulle regte en opvoeding baie belangrik. Gemeenskapsfeeste gee ons die geleentheid om meer mense te bereik,” het Florence Mokgabudi van Childline gesê.



