POLOKWANE – Die bekende gospelsanger, Louis Brittz, het verlede Donderdagaand by Laerskool Pietersburg-Oos opgetree tydens ‘n baie spesiale opvoering.
Vroegoggend reeds is ‘n groot markies-tent opgeslaan waarbinne die gehoor met hul komberse en piekniekmandjies na Louis se optrede kon kyk.
Ouers van Oosskool-leerders asook ander inwoners van die dorp het na Oosskool se rugbyveld gestroom met hul piekniekmandjies in hul hande; gereed om begeester te word deur Louis se positiewe musiek.
Oosskool se junior- en seniorkoor het die konsert geopen voordat Louis begin sing het.
Daarna het Louis aangedring dat soveel as moontlik mense onder die tent inkom en het die dromme begin slaan. Die gehoor kon nie anders as om op te staan, hul hande in die lug te gooi en saam te sing met liedjies soos Hy Leef, Wapenrusting en In Verwondering nie.
Louis is nie net ‘n musikant nie, maar ook ‘n prokureur, musiekvervaardiger en motive-ringspreker by aanbiddingsgeleenthede.
Hy is die hoofuitvoerendebeampte van Merchant Music, ‘n Suid-Afrikaanse produksiemaatskappy wat opnames doen, bemarking behartig en ook hoë kwaliteit musiek vervaardig.


Ook is hy ‘n skrywer wat ‘n rubriek vir ‘n tydskrif skryf en twee boeke gepubliseer het.
Louis het al meer as 13 CD’s vrygestel en skryf en sing in Afrikaans en Engels. Hy het al opgetree saam met bekende gospelsangers soos Steven Curtis Chapman, Kirk Franklin, The Newsboys, Third Day en Sonic Flood gedurende hul toere in Suid-Afrika.
“Vanaand se optrede was spesiaal. Dit het gevoel asof God spesiaal net met my deur Louis praat,” het ‘n lid van die gehoor, Annetjie Botha, na die optrede gesê.



