MOKPANE – DIE swemspan van Laerskool Krugerpark spog breëbors met die eerste plek in die top 10-swemgala wat hulle verlede week op Tzaneen ingepalm het.
Dit was ‘n soete beloning vir hul harde werk en hul grootste motivering was hul skoolhoof, Johan Vertongen, se belofte dat hy in die skoolswembad sal duik indien die swemspan die trofee huis toe bring.
Die vreugdevure het hoog gebrand toe die Krugies op 12 November met die louere weggestap het na strawwe kompetisie van nege ander skole se swemspanne in die swembad van Unicorn Primary School. Vertongen, het sy woord gestand gedoen en in die Krugies se swembad geduik om saam met die leerders hul oorwinning te vier. Daar is ook heerlik aan roomyse gesmul.
Ursula van den Berg, swemorganiseerder van die Krugies, straal behoorlik van trots en het Awie Hattingh van die Tuks Mokopane swemklub vir sy afrigting en harde werk bedank.
Dit is die eerste keer in vier jaar wat Laerskool Krugerpark weer dié gesogde titel wen.





