POLOKWANE – Laerskool Pietersburg se bulletjierugby-ouergemeenskap het Saterdagaand ‘n suksesvolle fondsinsamelings-geleentheid by die skool aangebied.
Die Demin and Diamond-dans, is in die vorm van ‘n veiling aangebied wat met ‘n heerlike makietie afgesluit is.
Een van die organiseerders van hierdie geleentheid, Juan-Marié Venter, het aan Review vertel dat die ondersteuning absoluut fantasties was en dit was duidelik te sien in die hoeveelheid geld wat hulle ingesamel het.
“Met die kaartjieverkope vir die dans, wat ‘n ete ingesluit het, het ons net meer as R10 000 ingesamel wat dan vir die skool se bulletjierugby-fonds aangewend gaan word volgende jaar.
“Tydens die veiling is ‘n uitmuntende bedrag van R24 459 ingesamel.
Die geld van die veiling sal vir liefdadigheid aangewend word,” sê sy.
Volgens Venter gaan die geld van die vei-ling hoofsaaklik vir die kinderhuis, Hoop vir Kinders, en vir Laerskool Pietersburg se Ystertjies, behoeftige kinders van dié skool.
“As bulletjierugby-ouers van Laerskool Pietersburg wil ons vir hierdie jong rugbyspe-lers wys hoe ‘n mens teruggee in die lewe en hoe om na jou naaste in behoeftige omstandighede uit te reik.”
Nog voor die stof kon gaan lê na die dans, was die organiseerders reeds besig om te werk aan ‘n volgende projek; ‘n kersboompartytjie vir die behoeftige kinders van Hoop vir Kinders en die Ystertjies van Laerskool Pietersburg.
Volgens Venter beoog hulle om hierdie geleentheid op 29 November aan te bied en die organiseerdres is besig om borgskappe te werf wat hulle hoop sal help om vir die eetgoed, koeldrank en geskenkies te betaal.



