MOKPANE – NA ‘n baie suksesvolle jaar in 2014, het die klein skooltjie met die hart van ‘n leeu groot planne vir 2015. Hoërskool Hans Strijdom op Mookgophong se leerders blink op vele terreine uit.
Hansies se sportsterre is oral in aanvraag
Atletiek
Hansies was vanjaar die wenners van die Prestasiebeker by die Bosveld Interhoër wat by Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal gehou is. Dit was die vyfde keer in ‘n ry wat die gesogte beker verower is.
Die wenner word bepaal deur die getal leerders in die skool wat gedeel word deur die totale punte wat die atlete op die byeenkoms behaal het. Die Hansies het met slegs sowat 400 leerders uitgestyg en hul slag op die atletiekbaan gewys.
Hans Strijdom bied al vir meer as 21 jaar, die grootste skole-atletiek byeenkoms in die land aan. Die skool spog ook met ‘n tartanbaan wat enig in sy soort in die land is.
Die Elardus Erasmus byeenkoms lok jaarliks sowat 48 skole se top meisies- en seunsatlete wat oor twee dae teen mekaar wedywer.Wêreldklastye en afstande word hier opgestel met die atlete wat fantastiese tye behaal in die verskeie items. Volgens al die skole wat dié byeenkoms bywoon, is dié byeenkoms hul gunsteling. Skole soos Menlopark, Kempton Park, Garsfontein, Helpmekaar, Waterkloof en Jeugland se atlete ding hier mee.
Hansies se atlete presteer hier ook bokant hulle potensiaal.
Die Hansies se kennis en ondervinding om groot byeenkomste aan te bied het ook daartoe gelei dat die skool aanstaande jaar die PUK Interhoër aangebied. Kyk uit vir die datums vir dié prestige byeenkoms.
Die skool is ook uitgenooi na die Bonde Interhoër in Pretoria. Die skool se atlete kry jaarliks provinsiale kleure wat hulle kans gee om aan die Suid-Afrikaanse skole-atetiekbyeenkoms te gaan deelneem.
Hokkie
Alhoewel ons maar net 400 leerders in die skool is, is daar drie hokkie-velde. Die A-veld word geken as een van die beste velde in Limpopo. Ons beskik ook oor ‘n hokkielapa waar klein byeenkomste gehou word.
Die hokkiebokkies presteer op die veld en die afgelope tien jaar is daar elke jaar ‘n span in die Limpopo uitspele, die kwart of semi-finaal of finaal van die Noordvaalkompetisie. In 2012 het die o/16 span die Noordvaalkompetisie gewen. Ons o/14-span het in 2014 in die kwarteindrondte van die Noordvaalkompetisie verloor.
Die skool het gewoonlik vier of vyf hokkiespanne wat deelneem aan die skolekompetisie, omdat van die meisies ook deelneem aan netbal. Elke jaar word van dié spelers gekies vir die Limpopospan.
Bokkieweek
Die afgelope twee jaar was Hoërskool Hans Strijdom ook die gasheer van die Bokkieweek.
Vanjaar het meer as 3 000 leerders en beamptes die suksesvolle week bygewoon. Met die openingsaand was daar nie minder as 10 000 mense op die pawiljoen nie. Sowat 40 hokkiespanne speel teen mekaar. Wat ongelooflik is, is dat Hoërskool Hans Strijdom die enigste skool in die land is wat die kapasiteit en vermoë het om Bokkieweek alleen aan te bied.
Baie van die skool se sportuitblinkers word vir die SA Bokkiespanne gekies, wat elke jaar oorsee toer. Die skool se eerstehokkiespan was vanjaar na China en dit is ‘n geleentheid wat elke hokkiespeler met oop arms aangegryp het.
In samewerking met die skool se sportwetenskaplike is die spelers reeds besig om te oefen.
Tennis
Terwyl die meeste leerders tans met hul voorseisoenprogramme besig is, is die Hansies aan die afrond en opskerp.
Die Limpopo-kampioenskappe lê om die draai en 10 van Hansieland se spelers gaan sake uitspook teen die beste spelers in die provinsie.
Vanjaar het vier Hansies hulle Limpopo-kleure verwerf en die skool vertrou om in 2015 weer ‘n aantal spelers in die Limpopo-span te hê. Daar gaan ook in Maart volgende jaar deelgeneem word aan aan ‘n tennistoernooi by Hoërskool Merensky. Tydens hierdie toernooi beplan ons om 12 spelers kans te gee om vir drie dae net tennis te speel. Wat ‘n wonderlike vooruitsig!
Meisieskrieket
Hierdie aktiwiteit is ‘n hoogtepunt op Hansieland se kalender. Alhoewel die span nog baie het om te leer, is daar genoeg potensiaal. Dis juis te danke aan die ontluikende talent dat vier Hansies in 2014 opgeneem is in die Limpopo-krieketspan. Ons sien met groot verwagting uit na die krieketseisoen van 2015 wat in Augustus afskop.
Rugby
Die eerstespan is vanjaar Limpopo-wenners en speel in die finaal van die Beeldtrofee vir mediumskole.
Ons o/15-span was die naaswenners in Limpopo en verloor in die uitspeelwedstryd van die Beeldtrofee vir mediumskole.
Die o/14-span verloor in die semifinaal van Limpopo teen die skool wat in die Finaal van die Beeldtrofee vir mediumskole speel.
Die o/16-span verloor teen die wenner en naaswenner in Limpopo. Van hierdie twee spanne gaan die een tot in die semi-finaal en die ander een wen die Beeldtrofee vir mediumskole. Daar het vanjaar twee seuns aan die o/18-Cravenweek deelgeneem, drie aan die o/18-Akademiespan en twee het vir die Noodvaal o/19-span gespeel.
Daar was drie van ons o/16- spelers wat in die o/16-Noordvaalspan gespeel het, wat hulle toernooi gewen het. Albertus van Deventer, een van ons o/16-spelers, word gekies vir die Suid-Afrikaanse o/16- Bokkiespan wat in Rusland getoer het. Conrad Engelbrecht word ge-kies vir die Gazellespan, die o/19-Bokkieweek B-span.
Die o/15 en o/17 sewesspanne is Limpopo-naaswenners en neem deel aan die Noordvaalkompetisie se finaal. Willem Dreyer word ge-kies vir die Limpopo sewes se o/18 span wat aan ‘n nasionale toernooi deelneem. Aanstaande jaar sal daar aan vriendskaplike wedstryde teen Overkruin en Generaal Hertzog van Witbank deelgeneem word.
Elke span speel drie wedstryde tydens die Mauritz Hansen rugbyweek wat ook deur Hoërskool Hans Strijdom aangebied word.
Hans Strijdom bied ook die kwalifiserende sewes toernooi op 11 en 12 September volgende jaar aan en die Noordvaal sewes finaal op 23 en 24 September. Die skool neem ook deel aan die KIA-liga by Pietersburg Hoërskool wat gedurende September plaasvind.
Krieket
Die o/15-span wen vier van hulle vyf ligawedstryde en is naaswenners van die Suidstreek. Hulle klop Ben Vorster in die semifinaal met 113 lopies en wen Louis Trichardt in die A-ligafinaal van Limpopo met 33 lopies. Hulle speel volgende jaar weer in die A-liga.
Kultuuraktiwiteite by Hoërskool Hans Strijdom
Die kultuuraktiwiteite van Hoërskool Hans Strijdom het vanjaar behoorlik gekook en die wiele aan die rol gehad:
Redenaars
Vier senior- en vier juniorleerders het deur gedring na die streeksuitdunronde van die ATKV–kompetisie. Tydens die halfeindronde het Nico Genis ‘n sesde plek en Le Ann Denton ‘n agtste plek behaal. Die Hansies is baie trots op Stefan Pretorius wat ‘n tweede plek in Limpopo gekry het en tot op nasionale vlak gevorder het.
Hans Strijdom het ook vanjaar jaar vir die eerste keer aan ‘n interskole-spanredenaarskompetisie deelgeneem. Hier het die Hansies uitstaande gepresteer deur weg te stap met ‘n derde plek (gr. 11), tweede plek (gr. 9) en ‘n eerste plek(gr. 10).
Debat
Drie junior- en ses seniorspanne het tuis aan die ATKV-Limpopo-KZN –uitdunne op 18 April deelgeneem. Hier het 14 juniorspanne van vyf skole in die juniorafdeling en 26 spanne van ses skole in die seniorafdeling teen mekaar meegeding. Twee van Hans Strijdom se juniorspanne en vier van die seniorspanne is gekies om op 6 en 7 Junie in Rustenburg aan die ATKV-halfeindrondte van Noordwes-KZN-Mphumalanga en Limpopo-kompetisie deel te neem. Hier het die Hansies weer uitstekend gepresteer deur ‘n sewende plek te behaal.
Ma-en-dogteraand
Daar word elke jaar ‘n Ma-en-dogteraand gehou en hierdie jaar was weereens ‘n groot sukses met die bekende Egoli-ster, Mandi Baard, wat as motiveringspreker opgetree het.
‘n Pa-en- seun braai het ook plaasgevind en groot planne word beraam om aanstaande jaar die ouers en hul kinders betrokke te kry.
Sang (buite-kurrikulêr)
Verskeie Hansies het aan sangkompetisies deelgeneem. Van die Hansies se sangsterre is Anne-Marie Mailovich en Hanru De Vos.
Anne-Marie het verskeie toekennings ontvang en ‘n hoogtepunt was toe sy aangewys is as PC Voice se ambassadeur. Hanru het tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir uitvoerende kunste verskeie medaljes ontvang vir sy prestasies.
Revue
Revue 2014 was ‘n reuse sukses. Die tema “Elemente” waartydens die vier oer-elemente met sang en dans uitgebeeld is, het weereens die oorkoepende tema van Hansieland uitgebeeld.
Skoolkoerant
Die derde uitgawe van die LEEUGENOOT het pas verskyn. Dis is propvol leesgenot en die leerders en onderwysers het dit baie geniet.
Landsdiens
Daar is tans 70 geregistreerde lede vir hierdie kultuuraktiwiteit. Hans Strijdom spog met die 22ste Springboktoekenning sedert 1996 toe ‘n Hansie hierdie eer ontvang het het vir uitstaande prestasie in Lands-diens.
Toneel
Die Hansietoneel het groot planne vir 2015 en en die ATKV-Jeugtoneelkompetisie is in die visier.
Talentkompetisie
Hierdie uiters gewilde kultuuraktiwiteit spog met verskeie suksesverhale, soos Henkie Dercksen wat in 2012 aangewys is as die Hansie met die meeste talent en in 2013 ontvang hy en sy sangmaat ‘n Ghoematoekenning!
Die kultuur-aktiwiteite is ‘n onmisbare been van Hoërskool Hans Strijdom se suksesverhaal en maak in soveel Hansies se lewe ‘n verskil.
Redenaars
Redenaars by die Hansies het in 2014 gekook.
Die hoogtepunt van die redenaarsdeelname by enige skool is natuurlik ATKV-deelname. In 2014 het een seniorleerder en drie juniorleerling aan die halfeindrondte in Polokwane gaan deelneem. Twee van die juniors het onder die top tien geëindig en een senior leerder het algeheel tweede geëindig. Hy het in Augustus die voorreg gehad om aan die jaarlikse landsfinale te Rustenburg te gaan deelneem.
Die ATKV-redenaarskompetisie het ‘n nuwe baadjie aangetrek en die Hansies is vuur en vlam om in 2015 die provinsie aan die brand te praat. In September het die skool aan die Saampraatfees gaan deelneem. Dit was ‘n eerste in Hansieland se geskiedenis. Die gr.10-span het die vloer met hulle teenstaanders gevee en die ander twee spanne het tweede en derde geëindig.
In 2015 word daar uitgesien om die Nasionale Simfonie orkes, oftewel die Symphonia Juventi se optrede by Hansieland te hou.
Kyk ook op 21 Februarie Ontbytsake op televisie. In een gleuf van vier minute word daar op Hansieland gefokus. Die program wat aangebied word deur die ekonoom, Dawie Roodt, is ‘n gewilde Afrikaanse program op Kyknet en kan gesien word Saterdae-oggende.
Skoolgaan by die Hansies is pret, maar akademie geniet voorkeur. Daar word flink geleer en die skool spog met goeie koshuisverblyf
Akademie
Die tegniese rigtings van ouds is terug in 2016. Hans Strijdom het nooit afgeskaal nie en bied al jare nog tegniese rigtings aan.
Met die nuwe verwikkelinge in 2016 kan ander “nie-tegniese skole” sekere tegniese vakke aanbied, bv Tegniese tekene – maar leerders wat daardie tegniese vakke neem, sal nie die Tegniese Wiskunde en Tegniese Wetenskap kan neem nie.
Die wiskunde en wetenskap is spesiaal vir skole geskryf wat drie en meer tegniese vakke aanbied. Leerders wat die rigting volg sal reeds na matriek al klaar N3 hê en sal nie ‘n verdere jaar hoef te studeer aan ‘n kollege om eers N3 te kry nie!
Die jaar na matriek kan hierdie leerder dus met sy N4 kursus begin. Leerders wat Tegniese Wiskunde en Tegniese Wetenskap neem sal derhalwe kwalifiseer vir universiteitstoelating. Indien ‘n leerling ‘n tegniese vak asook I.G.O. (Ingenieurs Grafika en Ontwerp) neem, kwalifiseer die leerder om Tegniese Wiskunde en Tegniese Wetenskap te neem. Hierdie is nuwe vakke vir Tegniese skole om die studierigtings meer beroepsgerig te maak.
Hoërskool Hans Strijdom is een van die bevoorregte skole wat werkswinkels het en van 2016 af Meganies, Elektries en Siviel mag aanbied. Sedert die nuwe bedeling het Hans Strijdom nog nooit opgehou om die rigtings aan te bied nie.
Met die huidige vaardigheidstekort in die land aan die spesifieke rigtings is die regering genoodsaak om weer die skole hulle nodige erkenning te gee en daar gaan selfs fondse van regeringskant af beskikbaar gemaak word om die ou Tegniese skole se fasiliteite op te gradeer. Baie ouers redeneer dat hulle hul kinders eers van gr. 10 wil stuur, aangesien die leerders dan hulle vakkeuses gemaak het.
Dit is die skool se ondervinding dat die afgewaterde tegniese onderrig wat leerders ontvang het by hul vorige skool dit uiters moeilik maak om aan te pas by die hoë standaard wat al reeds van gr. 8 aangebied word. Die skool beveel aan dat ouers reeds in gr. 8 die kinders by Hoërskool Hans Strijdom inskryf sodat, teen die tyd wat die leerder by gr. 10 kom, hy/sy reeds ‘n goeie onderbou het.
Koshuise
Die skool het seuns– en meisieskos-huise wat baie goed toegerus is. Daar is tans nog plek. Skakel gerus om pryse te vergelyk. Hoërskool Hans Strijdom is die goedkoopste koshuis en skool in die Bosveld. “Ons het ‘n sous chef in ons koshuiskombuis en ons koshuiskos is tops. Ons kos-huisbrakke eet baie lekker.”



